Wednesday 15 July 2015

Soet badgeure




Soet badgeure

Jy benodig
• ’n staaf gliserienseep (nie gekleur of gegeur nie)
• seepgietvorms
• vlugtige blom-olies
• koskleursel van jou keuse
• isopropiel-alkohol (‘rubbing alcohol’) in ’n spuitbottel


So maak jy
1
Sny die gliserienseep in blokkies van sowat 1 x 1 cm op en sit dit in ’n vuurvaste glasbeker.

2 Mikrogolf die seepblokkies vir 30 sekondes op hoog sodat dit kan smelt. Sit dit vir nog ’n paar sekondes in die mikrogolfoond as alles nog nie gesmelt het nie.

3 Voeg ’n paar druppels vlugtige olie by die gesmelte seep en roer dit met ’n metaallepel – roer versigtig sodat daar nie lugborrels in die seep kom nie. WENK Patsjoelie, roosmalva, ilang-ilang, laventel en roos maak lieflike blom-olies vir seep. Vanielje-olie gee ook ’n heerlike geur.

4 Kleur nou die mengsel deur net die punt van ’n tandestokkie in die koskleursel te druk en dan in die seep. Roer die kleursel in en voeg nog by as jy dit donkerder wil hê.

5 Gooi die mengsel in jou gietvorms en laat dit vir ’n paar uur by kamertemperatuur staan om te stol. As daar lugborrels op die oppervlak van die seep vorm wanneer jy dit in die vorms gooi, kan jy dit liggies met die isopropiel-alkohol (by apteke te kry) spuit om dit op te breek. WENK Jy kan ook metaal-broodpannetjies gebruik om die seep in te maak. Spuit dit met kossproei voordat jy die seepmengsel ingiet. Laat dit afkoel en sit dit dan vir sowat 20 minute in die vrieskas. (Dit help dat die seep makliker uit die pannetjies dop.) Jy kan die seep agterna met ’n mes sny.

6 Druk die gestolde sepe versigtig uit die gietvorms.

SLIM IDEE Vir versiering kan jy kunsmatige blomblare in die seep sit. Gooi eers net ’n lagie van die seepmengsel in die gietvorm, sit die blaartjies daarin en laat die seep effens stol. Vul dan die vorm met nog van die mengsel op. Regte blomme sal bruin verkleur.