Monday 20 April 2015

Macaroni-en-kaaskoekies




Macaroni-en-kaaskoekies
Dié koekies is bros aan die buitekant met ’n sagte, gesmelte binnekant. Die beslag sal vier dae in die yskas hou.
Jy benodig
• 1 koppie rou macaroni
• ½ koppie volroommelk
• 2 eetlepels mielieblom
• ’n knippie paprika
• 1 teelepel mosterd
• sout na smaak
• 1 koppie sterk cheddar, gerasper
• 2 grasuie, fyngekap
• 1 koppie fyn broodkrummels
• botter vir braai
Só maak jy
1 Kook die macaroni in soutwater volgens die aanwysings op die pakkie. Dreineer die pasta sodra dit amper al dente (sag maar ferm) is. Spoel dit af met koue water.
2 Verhit die melk in ’n potjie tot kookpunt. Meng die mielieblom met 4 eetlepels water en roer dit deur die melk. Hou aan roer totdat dit een keer gekook het en begin verdik. As dit nie verdik nie, maak nog ’n bietjie mielieblom aan en roer dit deur. Verwyder die witsous van die hitte en geur dit na smaak met paprika, mosterd en sout.
3 Gooi die gedreineerde pasta, kaas en grasuie by die witsous en roer dit goed deur.
4 Gooi die krummels in ’n bak. Skep twee eetlepels van die macaronimengsel in die krummels en vorm ’n bol wat met krummels bedek is.
5 Verhit ’n pan, smelt die botter daarin en plaas ’n macaroni-bol daarin. Druk dit effens plat met ’n eierspaan en braai dit tot dit ’n bros goudbruin korsie aan die onderkant vorm. Wees geduldig. Draai die koekie versigtig met die eierspaan om en braai ook die ander kant tot goudbruin. As die koekies uitmekaar val, sprinkel ’n bietjie meel oor die macaronimengsel om dit te bind. Eet die koekies net so uit die pan terwyl die kaas nog sag is.
WENK Is die manne rêrig honger? Maak dan ook hierdie worsies saam met die koekies vir ontbyt: Rol hoenderwors toe in repiespek (gebruik tandestokkies om dit in plek te hou) en smeer dit dik met ’n braaimarinade voor jy dit in ’n warm oond (180 °C) rooster tot gaar.