Vegetariese bobotie
GENOEG VIR 6
Bereiding: 10 min.
Gaarmaak: 60 min.
15 g botter
15 ml (1 e) olyfolie
1 ui, fyn gekap
15 ml (1 e) matige kerriepoeier
2 rooi brandrissies, gekap
3 knoffelhuisies, fyngedruk
500 g botterskorsie, in blokkies gesny
2 wortels, gerasper
45 ml (3 e) blatjang
10 ml (2 t) suiker
’n hand vol koljander, gekap
2 x 410 g-blikke lensies, gedreineer
sout en peper
Eier-bolaag
500 ml (2 k) amasi
3 eiers
1,25 ml (¼ t) kerriepoeier
sout en peper
lourierblare
Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n groot bakpan.
- Verhit die botter en olie in ’n groot pot en braai die ui, kerriepoeier, brandrissie en knoffel tot sag en geurig.
- Voeg die botterskorsie en wortel by, en soteer 10 min. tot die groente sag is en al die vloeistof verdamp het.
- Voeg die oorblywende bestanddele by en roer tot goed gemeng. Laat prut sowat 5 min. tot die mengsel verminder het. Geur na smaak.
- Plaas die lensiemengsel in die voorbereide bakskottel en maak met die agterkant van ’n lepel glad.
- Eier-bolaag: Klits al die bestanddele saam en giet oor die mengsel. Druk ’n paar lourierblare in en bak sowat 40 min.