Thursday 26 February 2015

Melktertkoek



Melktertkoek
Deur Arina Du Plessis
’n Tong-in-die-kies weergawe van ons nasionale tert. Melktertpap tussen lagies kaneelsponskoek met ’n sweempie sjerrie gegeur . . .

Vulsel
1 liter melk
Halwe vanieljepeul, saadjies uitgeskraap
4 eiergele
180 ml koekmeel
250 ml suiker

50 g botter

Kaneelsponskoek
4 eiers, teen kamertemperatuur
410 ml witsuiker
125 ml melk
125 ml water
100 ml olie
10 ml vanieljegeursel
500 ml koekmeel
10 ml bakpoeier
7 ml kaneel
40 ml soet sjerrie
125 ml gekapte neutebroslekker (pralien), om oor te sprinkle

Vulsel: Verhit die melk en vanielje (peul en saadjies) tot kookpunt. Verwyder van die hitte. Klits die eiergele, koekmeel en suiker saam met ’n bietjie van die melk tot ’n gladde pasta. Voeg die helfte van die warm melk by die eiergeelmengsel, roer en giet alles terug in die kastrol. Verhit oor lae hitte, terwyl aanhoudend geroer word, tot kookpunt. Prut liggies vir 3 minute, terwyl jy roer, tot gaar. Verwyder van die hitte en roer die botter by. Skep in ’n bak, bedek met kleefplastiek en laat afkoel.

Kaneelsponskoek: Voorverhit die oond tot 180 ºC en voer twee gesmeerde 20 cm-panne uit met bakpapier. Klits die eiers goed. Voeg die suiker lepel vir lepel by, terwyl aanhoudend geklits word, tot liggeel en dik. Verhit die melk, water en olie tot kookpunt, verwyder van die hitte en voeg die vanieljegeursel by. Hou eenkant. Sif die meel, bakpoeier en kaneel en vou die eiermengsel daarby in. Voeg die melkmengsel by en vou in tot ’n gladde beslag. Verdeel die beslag tussen die panne en bak vir 20-30 minute tot deurgaar. Laat vir 10 minute in die panne afkoel en keer dan uit op ’n draadrak om heeltemal af te koel.

Om saam te stel: Sny elke koeklaag in twee dunner lagies en besprinkel elke lagie met sjerrie. Sit die onderste laag op ’n koekbord. Skep of spuit ’n lagie van die vulsel op die onderste koeklaag. Sit nog ’n lagie koek bo-op en herhaal die proses. Eindig met ’n lagie vulsel. Sprinkel die neutebroslekker oor en sit voor. (Bêre die koek in die yskas.)
Lewer 14-16 porsies.