Monday 2 February 2015

Kaas-en-ontbytvlokkieballetjies



Kaas-en-ontbytvlokkieballetjies

Maak 36
Voorbereityd 20 minute
Baktyd 15 minute

Jy benodig
100 g botter, in blokkies
100 g cheddarkaas, gerasper
’n knippie sout en rooipeper
1 opgehoopte koppie bruismeel
1 koppie ontbytvlokkies (cornflakes)
1 eier
¼ koppie melk

So maak jy
1 Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n groot bak-plaat met botter of spuit met ’n  kleefwerende sproei.
2 Meng die botter, kaas, sout, rooipeper, bruismeel en ontbytvlokkies saam in ’n mengbak. Hou in gedagte: sagte botter werk makliker.
3 Klits die eier en melk saam en hou 1 eetlepel daarvan eenkant om later te gebruik.
4 Meng die res van die melk-mengsel deur die beslag en knie dit om ’n gladde deeg te vorm. Breek klein stukkies van die deeg af en rol dit in balletjies van ongeveer 3-4 cm groot.
5 Pak die balletjies op ’n bak-plaat en druk dit effens plat met ’n vurk. Maak ’n kwassie nat met die eier en melk wat oorgebly het en smeer die balletjies se bokant daarmee.
6 Bak vir 12-15 minute totdat die koekies ’n ligte goudkleur het en ferm voel.
7 Skakel die oond af, maak die oonddeur oop, en los die balletjie vir nog ongeveer 15  minute in die oond om bros  te raak. Verwyder die bakplaat en pak die balletjies op  ’n afkoelrakkie.