Wednesday 28 January 2015

Bokmelkkaas-krokette met aarbei-en-appelblatjang




Bokmelkkaas-krokette met aarbei-en-appelblatjang

Genoeg vir: 4
Bereidingstyd: 30 minute
Gaarmaaktyd: 25 minute

Blatjang• 15 ml botter
• 1 ui, middeldeur gesny en dan opgesny
• 2 Granny Smith-appels, geskil, klokhuise verwyder en in blokkies gesny
• 60 ml witwynasyn

• 60 ml bruinsuiker
• 2 ml gerasperde gemmer
• 1-2 ml droë rissievlokkies
• 350 g aarbeie, blare verwyder en gekap

Krokette• 1 klein aartappel, geskil en in blokkies gesny
• 100 g chevin-bokmelkkaas, gekrummel
• 50 ml gegeurde meel
• 1 eier, liggies geklits
• 100 ml growwe broodkrummels
• sonneblomolie vir diepbraai
• slaaiblare om voor te sit

1 Blatjang Verhit die botter en voeg die ui en appel by. Braai vir omtrent 10 minute oor matige hitte, tot die appels amper sag is.

2 Voeg die asyn, suiker, gemmer en rissie by en roer tot die suiker oplos. Laat dit vir 15-20 minute prut tot dit dik is. Voeg die aarbeie by, sit die plaat af en roer vir ’n paar minute tot die aarbeie net gaar is. Laat afkoel. Skep in ’n gesteriliseerde fles as jy dit nie dadelik gaan gebruik nie.

3 Krokette Kook die aartappel tot net sag. Dreineer en laat afkoel. Druk deur ’n sif en geur met sout.

4 Meng die aartappel en bokmelkkaas. Vorm dit in krokette. Rol dit in meel, dan in eier en laastens in broodkrummels.

5 Diepbraai tot goudkleurig. Dreineer op kombuispapier. Sit voor met die blatjang en slaaiblare.