Monday 26 May 2014

COKE SJOKOLADEKOEK




COKE SJOKOLADEKOEK
Ek het hierdie resep jare gelede in 'n tydskrif raakgelees en dit uitprobeer. Dit was nog voor die dae wat mens sommer op die internet kon ga...an kyk en lees wat ander mense van 'n resep dink! Ek was maar skepties, maar die koek is regtig divine! Dit is een van my gunsteling sjokoladekoeke. Dit lewer 'n groot, klam en donker sjokoladekoek.
250 ml Coke
125 ml kakao
4 ekstra groot eiers
375 ml suiker
125 ml olie
5 ml vanillageursel
450 ml koekmeelblom
15 ml bakpoeier
2 ml sout
Voorverhit die oond tot 180 grade. Smeer twee 22cm-laagkoekpanne met margarien of spuit dit met Spray & Cook.
Meng die Coke en kakao saam tot glad. Laat eenkant staan. Skei die eiers. Klits die eiergele en suiker baie goed saam tot lig en dik. Roer die kakaomengsel hierby, dan die olie en die vanillageursel. Sif die meel, bakpoeier en sout saam en roer by. Klits die eierwitte tot dit stywe punte vorm en vou dit by die beslag in.
Verdeel die beslag tussen die twee koekpanne en bak in die middel van die oond vir 25-30 minute tot gaar en 'n toetspen skoon uit die middel van die koek kom. Laat dit effens afkoel en keer op draadrakke uit om af te koel.
Versier soos verkies.
As jy nie weet watter versiersel om te gebruik nie, die volgende een was deel van die oorspronklike resep:
SJOKOLADE GANACHE
200 g sjokolade, gekap
250 ml room
60 ml botter, in blokkies gesny
Verhit die sjokolade in 'n dubbelkoker (of gebruik 'n glasbak oor 'n pot met kookwater) oor baie lae hitte tot net gesmelt. Klop vir 1 minuut tot glad. Verhit intussen die room tot louwarm en wanneer dit dieselfde temperatuur as die sjokolade is, roer jy die twee saam. Klop die botter by tot alles opgelos en glad is. Bedek die versiersel en plaas in die yskas tot styf. Sny elke koeklaag horisontaal in twee en smeer 'n dun lagie sjokoladeversiersel op elk. Stapel op mekaar en smeer die res van die versiersel bo-op en langs die kante.
Wenk:
Wanneer 'n resep vra dat 'n koeklaag in twee gesny moet word, werk hierdie metode die beste: Vat 'n langerige stuk gare, en sit dit om die koek in die middel, of daar waar jy die koek deurgesny wil hê. Hou die twee ente van die gare oorkruis en trek dit stadig en versigtig na mekaar toe. Die gare gaan dan die koek sonder enige probleme middeldeur sny. Easy peasy!