Monday 14 April 2014

Suikervrye kaaskoek




Suikervrye kaaskoek

Genoeg vir: 8
Bereidingstyd: 40 minute, plus yskastyd
Baktyd: 10 minute
Oondtemperatuur: 200 oC

Onderlaag• 100 ml (55 g) koekmeel
• 2,5 ml bakpoeier
• 40 ml suikerplaasvervanger vir bakwerk (bv. Sugalite of xilitol)
• 50 ml (45 g) botter
• 1 groot eier

Vulsel
• 30 ml gelatien
• 4 groot eiers, geskei
• 300 ml suikerplaasvervanger
• 500 g vetvrye gladde maaskaas
• 5 ml vanieljegeursel
• 15 ml suurlemoensap

Bolaag• 15 ml gelatien
• 100 ml konfyt met verminderde suiker wat geskik is vir diabete
• skywe vars vrugte vir versiering

1 Onderlaag Meng die meel, bak- poeier en suikerplaasvervanger saam. Vryf die botter daarby in. Klop die eier en roer dit by die mengsel in. Skep dit in ’n gesmeerde losboompan van 18 cm en smeer dit eweredig in die pan. Bak dit in ’n warm oond vir 10 minute. Haal dit uit die oond uit en laat dit eenkant afkoel.

2 Vulsel Gooi 100 ml water oor die gelatien. Sit dit eenkant om die water te absorbeer. Verhit dit dan tot dit gesmelt het en sit dit eenkant om af te koel.

3 Klop die eiergele en suikerplaasvervanger saam tot dit lig van kleur is. Vou dan die maaskaas, vanieljegeursel en suurlemoensap daarby in. Voeg ’n bietjie van dié mengsel by die gelatienmengsel en roer dit. Voeg dit by die res van die maaskaasmengsel.

4 Klop die eierwitte styf en vou dit by die mengsel in. Gooi dit oor die onderlaag en sit dit oornag in die yskas om te stol.

5 Bolaag Gooi 40 ml water oor die gelatien en laat dit die water absorbeer. Verhit dit tot gesmelt. Maak die konfyt warm en roer dit by die gelatien in. Laat dit afkoel, skep dit oor die kaaskoek en laat dit stol. Versier dit met vars vrugte.
 
(Idees)