Friday 14 March 2014

Pampoentert




Pampoentert

Die gewilde pampoentert.
(2 terte van sowat 15 cm elk)

Deeg

  • 350 g (625 ml) koekmeel
  • 2 ml sout
  • 30 ml strooisuiker
  • 226 g (245 ml) ongesoute botter, in blokkies gesny
  • 90 ml water
Plaas die meel, sout en strooisuiker in jou voedselverwerker. Voeg die botter by en meng totdat dit in die meel ingewerk is. Voeg die water by – nie alles op een slag nie – totdat dit ’n deeg vorm. Haal die deeg uit en maak toe met kleefplastiek. Plaas in die yskas vir sowat 30 minute. Voer dan 2 gesmeerde tertborde daarmee uit. Jy kan die deeg uitrol of dit bloot in die tertborde druk. Verhit intussen jou oond tot 180 °C.
Vulsel
  • 3 groot eiers
  • 500 ml pampoen-puree
  • 125 ml room
  • 110 g (137 ml) bruinsuiker
  • 5 ml fyn kaneel
  • 2 ml fyn gemmer
  • 1 ml sout
Klits die eiers in jou elektriese menger. Voeg die res van die bestanddele by en meng goed. Gooi die mengsel in die uitgevoerde tertborde. Plaas in die warm oond en bak vir sowat 45 minute totdat die vulsel gestol is. Haal uit en laat afkoel. Sit voor saam met geklopte room of roomys.
Pampoen-puree
Ek koop sommer gesnyde pampoen by die supermark hiervoor. Pampoen-puree moet lyk soos baie gladde babakos. (sowat 500 ml pampoen-puree)
  • 500 g gesnyde pampoen
  • ekstra water indien nodig
Stoom of kook die pampoenstukke tot gaar. Laat die pampoen effens afkoel en verpulp dit in jou versapper of voedsel-verwerker. Ek vind dat ’n versapper ’n baie gladder puree gee. Voeg ’n klein bietjie water by indien nodig.

(Sarie)