Friday 28 March 2014

Maak ’n sementpot vir jou plante



Maak ’n sementpot vir jou plante

Jy benodig• plastiekhouers om as gietvorm te gebruik (een vir die pot se buitekant en ’n kleiner een vir die binneste holte; sien stap 6)
• sement
• bouersand
• stofmasker en rubberhandskoene
• emmer en groot metaallepel (jy sal dit nie agterna vir iets anders kan gebruik nie)
• maatbeker
• growwe skuurpapier
• elektriese boor met ’n betonboorpunt
• tang
• handwerkmes
1 Was die plastiekhouer wat jy vir die buitekant gaan gebruik (bv. ’n leë koeldrankbottel), en sny die bokant tot op die verlangde hoogte af indien nodig. Hou dit eers eenkant saam met die kleiner binne-houer.
1
2 Sit jou stofmasker op en trek jou rubberhandskoene aan – jy moet dit deur die hele proses aanhou.

3 Gooi twee dele bouersand en een deel sement in die emmer en meng dit met die metaallepel deur. NOTA Met twee liter bouersand en een liter sement kon ons ’n hele paar potte op een slag giet.

4 Gooi een deel water (een liter in ons geval) bietjies-bietjies op ’n slag by en roer soos jy gooi. Wanneer driekwart van die water in is, kan jy kyk hoe dik die mengsel is – dit moet soos dik jogurt wees. Gooi nog water by indien nodig.

5 Maak die buite-houer omtrent driekwart vol met die sementmengsel. Kap liggies teen die kant van die houer om al die lugborrels uit te kry.

6 Druk die binne-houer reg in die middel van die buite-houer in–moenie dat die sementmengsel oorloop nie, en gooi nog by as dit nie tot bo vol is nie. LET WEL Die buite-houer moet oral minstens 1 cm van die binne-houer wegstaan.

7 Gooi ’n paar klippies in die binne-houer om dit in posisie te hou. Laat dit ’n paar uur staan om hard te word.
7
8 Sodra die sement hard is, kan jy die klippies uitgooi en die gietvorms vir 24 uur in ’n emmer met water laat staan – dis om die sement sterker te maak. LET WEL Moenie dié stap oorslaan nie, want as jy die gietvorms nou al probeer afhaal, kan die sement kraak.
8
9 Haal die gietvorms uit die water uit en wikkel die binne-houer met jou tang tot dit loskom. Maak met jou handwerkmes ’n sny in die buite-houer.
9
10 Neem weer jou tang en skeur die buitehouer vanaf die sny weg van die pot.
10
11 Skuur die pot se borand gelyk op ’n stuk growwe skuurpapier. Vryf dit met jou vingers en spoel dit in water af om dit weer glad te maak.
11
12 Boor ’n dreineringsgat in die middel van die pot – werk op ’n houtblokkie. Laat staan die pot vir ’n dag of wat om heeltemal droog te raak voor jy ’n plantjie daarin plant.
12


(Idees)