Monday 31 March 2014

Appel-breekboord



Appel-breekboord

Lewer 1 ronde brood (16 bolletjies)
Bereiding: 1 uur
Gaarmaaktyd: 45 minute
Rystyd: 80 minute

BROOD
250 ml (1 k) warm melk
125 ml (½ k) botter, gesmelt
1 eier
160 ml (²∕³ k) suiker
10 g gis
5 ml (1 t) sout
750 ml (3 k) meel
1 appel, fyn gekap
80 ml (¹∕³ k) pekanneute,
gerooster en gekap
2,5 ml (½ t) fyn kaneel
VERSIERSEL
250 ml (1 k) versiersuiker, gesif
20 ml (4 t) warm water
gekapte appel en neute vir versiering
Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n ronde bakpan.
  1. BROOD Klop die melk, 30 ml (2 e) van die botter, die eier en 30 ml (2 e) van die suiker saam in ’n beker tot dit goed gemeng is.
  2. Sif die gis, sout en meel en voeg die melkmengsel geleidelik by terwyl jy dit meng om ’n taai deeg te vorm.
  3. Plaas die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak en knie 7-12 minute tot dit glad is. Plaas in ’n gesmeerde bak en laat 1 uur rys.
  4. Meng die appel, neute, kaneel en orige suiker in ’n bak. Knie die deeg af en verdeel in 16 bolletjies. Druk elke bolletjie plat en skep appelmengsel bo-op. Rol die deeg in ’n klein bolletjie en doop in die orige botter.
  5. Plaas die bolletjie in die ronde bakpan. Herhaal die proses met die res van die deeg en plaas die bolletjies langs mekaar in die pan. Bedek met ’n afdroogdoek en laat 15-20 minute rys. Bak die brood 40-45 minute tot goudkleurig en deurgaar.
  6. VERSIERSEL Klop die water en die versiersuiker in ’n bak tot glad en klontvry. Verwyder die brood uit die oond en laat afkoel. Versier met die versiersuiker en gekapte appel en neute