Wednesday 5 February 2014

Valentyns Ontbyt Idees




Dis nie nodig vir duur geskenke op Valentynsdag om te wys hoe jy voel nie. Bederf jou man / vrou heeldag lank met klein lekkernye om hom / haar te wys hoe spesiaal hy / sy is.
'n Goeie begin
Dek die ontbyttafel mooi op Valentynsdag en doen net 'n klein bietjie ekstra moeite met die kos. Die detail is wat belangrik is.

• Bak eiers in hartjievormige koekiedrukkers en gebruik dieselfde koekiedrukkers om hartjies uit roosterbrood te druk. Sit dié ontbytbroodjies voor met oondgeroosterde tamaties, gebraaide spek en sampioene. (As hy / sy van gekookte eiers vir ontbyt hou, sit dan hartjieroosterbrood daarby voor.)
• Maak die vorige dag al 'n klein quiche met bloedrooi pikantrissies en roomkaas en verras hom / haar daarmee vir ontbyt.
• Vergeet van gewone oggendkoffie en sit sjokoladekoffie of warmsjokolade voor. Rasper donker sjokolade en skep twee groot eetlepels daarvan onder-in 'n koffiebeker. Maak die beker halfvol warm melk en vul met warm filterkoffie. Vir egte warm sjokolade, gebruik dubbel die hoeveelheid sjokolade en slegs warm melk. (Of los die koffie geheel en al en drink yskoue vonkelwyn!)
• As muesli en jogurt altyd deel van ontbyt uitmaak, sit dit op Valentynsdag effens anders voor. Maak vars vrugteslaai en skep lagies daarvan, afgewissel met muesli en jogurt, in lang glase.
• Bak plaatkoekies en sit dit voor met gebraaide piesang en stroop. Jy kan ook sjokoladesplinters of gekapte neute of bessies by die beslag inroer vir ekstra lekkerte.
• Maak Franse roosterbrood, maar voeg 'n bietjie kaneel en room by die geklopte eier voor jy die brood daarin doop. Sit voor met spekvleis en stroop.