Friday 12 July 2013

Gerookte aartappelslaai




Gerookte aartappelslaai Errieda du Toit, Kokkedoor inhoudsvervaardiger en skrywer van Kokkedoor die Kookboek, skryf in Saterdag 13 Julie se Die Burger NAWEEK oor haar kos-ervarings agter die skerms. Sy het hierdie gerookte aartappelslaairesep by die wenners Mynhardt Joubert en Tiaan Langenegger afgebedel by die straatpartyjie in die laaste episode. Nou kan jy ook ‘n Kokkedoor-kinkel aan die ou bekende bring-en-braai-slaai gee:



  • Kook 1kg aartappeltjies met die skil aan en sny in halwes. Plaas 6 rooibosteesakkies se teeblare in ‘n roker. As jy nie een het nie, voer ’n oondpan met foelie uit en gooi die rooibosteeblare bo-op. Plaas ’n afkoelrakkie bo-oor en stapel die aartappel-halwes daarop. Maak toe met deksel om rook binne te hou. Plaas oor matige hitte op ‘n stoof- of gasplaat en rook vir sowat 15 minute.

  • Maak die mayonnaise: maak ‘n erdemengbak warm met sterk warm kraanwater, droog vinnig af en gooi drie eiergele in, klits tot lig en skuimerig met elektriese handmenger op hoog vir 3 minute.  Voeg by 5 mℓ droë mosterd, sap van halwe suurlemoen en knypie sout.  Klits weer op hoog vir 4 minute.  Voeg 750 mℓ olie stadig in ‘n dun stroompie by.  Moenie haastig wees nie.  Klits tot al die olie in is en lekker dik mayo gevorm het. Meng by: 4 gerasperde knoffelhuisies, asook gemengde vars gekapte kruie by soos basiliekruid, koljander, tiemie en roosmaryn.

  • Droog 125 mℓ kappertjiesade (capers) met kombuispapier af.  Diepbraai in warm olie. Diep Braai in warm olie n halwe koppie kappertjie saad (maak eers droog met handdoek paper).

  • Meng kruiemayonnaise deur die gerookte aartappels, strooi growwe swartpeper, nog gekapte kruie en brosgebraaide kappertjiesaad oor.