Wednesday 17 April 2013

Geroosterde Patats - Heleen Meyer





Sekerlik een van die maklikste en lekkerste maniere om patats te rooster. Ek het dit só by ’n goeie vriendin, Louise Botha, geëet en jy sal ver loop om dit lekkerder te kry. Die binnekante is murgsag, met ’n bros skilletjie... heerlik!

Die geur van ’n gebakte patat is vir my koesterkos. Hierdie tyd van die jaar wil ’n mens ook begin dink aan warmer kos vir kouer dae en in my kombuis maak patats dan gereeld hul verskyning. Dis ’n groente wat ’n mens heeljaar kry, alhoewel daar tye van die jaar is, wat dit heelwat duurder is. Dit is ’n herf- en wintergroente en dus nou meer seisonaal.

Patats is regtig gesond en alhoewel dit ’n goeie bron van koolhidrate is, is dit ’n koolhidraat waarvan jy maar meer kan eet. Die glisemiese indeks (effek op jou bloedsuiker) is lekker laag en sal jou dus langer versadig hou. Patats is ook hoog in vesel, wat jou verder vol sal laat voel en as jy patats met die skil aan eet, is dit selfs nog ryker aan vesel.

Daar is verskillende soorte en groottes patats beskikbaar met ’n skil wat wissel van rooi tot wit en geel van kleur. Die vleis is ook nie alles dieselfde nie, want dit kan wissel van ’n romerige kleur tot oranje of geel, soos die bekende ‘borrie’-patat.

Die natuurlike soet smaak van patats maak dit juis veelsydig, want dit pas by soveel smake. Probeer dit gerus met speserye soos komyn, kaneel, neutmuskaat, gerookte paprika, Chinese 5 spesery en selfs kerriepoeier. Ander bestanddele waarmee dit lekker kombineer, is balsamiese asyn, heuning, lemoensap, kekerertjies en kruie soos koljanderblare, tiemie en roosmaryn.

Patats is ideaal saam met hoender, vark, skaapvleis en natuurlik vis. Gebraaide snoek en gebakte patats is seker ’n erkende eg Suid-Afrikaanse gereg. Patats kan ewe lekker gebak, gerooster, gebraai, oor die kole gaargemaak en gekook word. Dit is heerlik in ’n kapokmengsel en ideaal om sop, bredies of eenpotgeregte mee te rek of te verdik. Stoor patats in ’n koel donker plek, waar dit droog is, sodat dit nie muf of begin uitloop nie. Dié lekker groente hoef net in ’n klein bietjie water geprut te word. Sit dit met gemaalde kaneel voor en geniet die natuurlike soet smaak.

Ek is lief vir patats in ’n kerrie en as jy ’n soeterige groente vir ’n Thaise kerrie of –sop soek, is patats net die antwoord. ’n Gebakte patat met ’n lepelvol ongegeurde jogurt en ’n paar vars koljanderblare is koningskos en jy het nie veel meer as ’n stukkie vis of hoender daarby nodig nie. Ons het voorheen al herderspastei met ’n patat-bolaag gemaak en dis altyd gewild. Dis ’n goeie alternatief vir kapokaartappels en heerlik as stysel met ’n kerrie of gereg met Meksikaanse geure.
  • BESTANDDELE

  • 45 ml (3 eetlepels) olyf of avokado-olie
    8 - 10 middelslag patats, in die skil
    sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
    klein klontjies botter (opsioneel)

    METODE

    1. Voorverhit oond tot 200 °C. Smeer ’n groot bakplaat liggies met van die olie en halveer patats in die lengte. (Patats van min of meer dieselfde grootte bak meer eweredig gaar.)
    2. Plaas die patats met gesnyde kante na onder op die bakplaat. Bedruip met orige olie en geur deeglik met ’n bietjie growwe sout en peper.
    3. Stip ’n klein bietjie botter op elke patat, indien gebruik, en rooster patats 30-45 minute of tot sag en goudbruin aan die onderkant. Sit dadelik voor met braaivleis, geroosterde vleis, hoender of vis.