Sunday 17 March 2013

Vrugte-ring




Maak: 1 groot ring of 6-8 klein ringetjies
Bereidingstyd: 35 minute, plus rystyd
Gaarmaaktyd: 20-25 minute
Oondtemperatuur: 200 °C
  • 420 ml (230 g) koekmeel
  • 10 ml fyn kaneel
  • 10 ml fyn gemengde speserye
  • 10 ml droë kitsgis
  • 45 ml (40 g) koue botter
  • 70 ml melk
  • 1 groot eier, liggies geklits
Vulsel
  • 140 ml vars lemoensap
  • 100 ml (75 g) droë pere, gekap
  • 20 ml (15 g) gemengde sitrusskil
  • 95 ml (85 g) botter
  • 70 ml (60 g) bruinsuiker
  • 55 ml (30 g) koekmeel
  • 80 ml (60 g) sultanas
  • 145 ml (60 g) gekapte pekanneute
  • 10 ml gerasperde lemoenskil
Glaseersel
  • 30 ml melk
  • 30 ml suiker
1 Meng die meel, speserye, gis en 2 ml sout en vryf die botter daarby in. Meng die melk en eier. Maak ‘n holte in die middel van die droë mengsel en gooi die vloeistof daarin. Meng stadig tot ‘n sagte deeg. Knie vir 10 minute.
2 Sit die deeg eenkant en laat dit rys vir ‘n uur of tot die volume verdubbel het.
3 Verhit die lemoensap vir die vulsel effens en gooi dit oor die pere en sitrusskil. Laat afkoel.
4 Dreineer die pere en sitrusskil. (Gooi die vloeistof weg.) Klop die botter en suiker saam. Sif die meel by en roer die vrugte, sultanas, neute en gerasperde lemoenskil in.
5 Knie die deeg af en rol dit uit op ‘n oppervlak wat liggies met meel bestrooi is om ‘n reghoek van 30 x 22 cm te vorm. Smeer die vulsel oor die deeg en rol dit soos ‘n konfytrol in die lengte op. Rol die deegrol weer liggies uit tot dit sowat 50 cm lank is.
6 Gebruik ‘n skerp mes en sny die deegrol in die lengte middeldeur. Sorg dat die gesnyde kante bo is en draai die helftes versigtig om mekaar. Sit dit op ‘n gesmeerde bakplaat sodat die deeg ‘n ring vorm en knyp die punte aan mekaar vas. Bedek dit en laat dit rys tot dit verdubbel het (sowat ‘n uur). Bak in die verhitte oond vir 20 tot 25 minute tot goudbruin.
7 Verhit die melk en suiker vir die glaseersel saam en verf dit oor die vrugterol sodra dit uit die oond kom. Laat staan dit op ‘n draadrakkie om af te koel.