Maak 15 muffins
Jy kan dit die vorige aand maak en dan saam met die kinders skool toe stuur, saam werk toe vat, of sommer deur die dag eet.
500 ml (2 koppies) koekmeel
15 ml bakpoeier
15 ml suiker
2 ml sout
30 g (125 ml) gemengde vars kruie (orego, basiliekruid, salie, grasuie, pietersielie), fyngekap
1 eier
250 ml (1 koppie) melk
100 ml gesmelte margarien of sonneblomolie
Voorverhit oond tot 190 °C.
Meng die droë bestanddele in 'n groot mengbak. Voeg die gekapte kruie by en meng deur die meelmengsel. Klits die nat bestanddele saam. Voeg dit by die droë bestanddele en roer vinnig saam om deur te meng.
Skep lepelsvol in muffinhouertjies – tot ¾ vol. Bak vir 15 minute.
Variasies
Hierdie is 'n baie basiese kruiemuffin.
Vir kaas- en kruiemuffins: Voeg 100 g (250 ml) gerasperde Cheddar by die droë bestanddele.
Vir kaas-, kruie- en songedroogde tamatiemuffins: Voeg 100 g (250 ml) Cheddar en 8 tot 10 gekapte songedroogde tamaties by die droë bestanddele.
Jy kan ook gekrummelde fetakaas byvoeg. Gaan mal! Deel die deeg op en maak verskillende geure; as jy dit gaan verdeel, gooi jou gekose geurmiddel by nadat jy die nat en droë bestanddele gemeng het.