Thursday 31 January 2013

Uitsmijter





Maak 4 broodjies; vir 2 of 4 persone.

Hierdie is 'n Hollandse gereg, wat jy enige tyd van die dag kan geniet. Terwyl jy die eiers braai, smelt jy kaas bo-oor en eet dit dan op 'n broodjie met ham. As jy haastig (of lus) is, kan jy dit ook in 'n rolletjie maak en soos 'n burger verorber.

4 snye volgraanbrood
5 ml grasuie, fyngekap
5 ml aangemaakte / heelkorrelmosterd
15 ml smeermargarien
4 skywe ham
4 eiers
8 – 12 skyfies kaas met mosterdsaad, kaas met komynsaad of Cheddar
sout en varsgemaalde swartpeper

Rooster die brood – net liggies. Dis eintlik opsioneel.

Meng die grasuie, mosterd en margarien. Smeer die brood met die gegeurde margarien. Plaas 'n skyfie ham op elke broodjie.

Verhit ongeveer 15 ml olie in 'n braaipan om die eiers te braai. As die wit net begin gaar word, sit skyfies kaas bo-oor die hele eier. Geur met sout en varsgemaalde swartpeper. Sit die braaipan se deksel op (dan smelt die kaas vinniger) en braai die eiers tot hoe gaar jou mense daarvan hou.

Wanneer die eier gereed is, plaas dit bo-op die hambroodjie. Geniet - verkieslik met 'n koppie koffie!