Wednesday 15 February 2012

Geurige oondgebakte hoender en rys


Almarie de Jager

Maklik en vinnig
om te maak, want die meeste bestanddele het jy in die koskas.

30 ml kookolie
15 ml botter
sout, swartpeper en gemengde kruie
ongeveer 2 kg hoenderstukke, skoongemaak
1 ui, opgekap
2 huisies knoffel, gekneus
2 soetrissies, rooi en groen, in repe gesny
250 g sampioene, in skyfies gesny
375 ml rou rys
1 pakkie sampioenroomsop
750 ml warm
hoenderaftreksel (meer kan gebruik word, indien verkies)

Voorverhit die oond tot 180°C en bespuit 'n diep oondskottel met kleefwerende
kossproei.
Verhit die olie en botter tot warm. Meng die sout, swartpeper en kruie saam en sprinkel oor die hoenderstukke. Verbruin die hoenderstukke in olie-bottermengsel, skep uit en hou eenkant. Braai die ui, knoffel, soetrissie-repe en sampioen-skyfies in die orige panvette vir twee minute. (Indien nodig, voeg ek-stra olie by.) Voeg die rys by en braai vir 'n verdere twee minute.

Maak die sampioensoppoeier aan met 'n klein bietjie koue water en klits die aftreksel daarby. Skep die rysmengsel en hoenderstukke in die voorbereide oondskottel en giet die warm soppoeier/aftreksel daaroor. Roer liggies deur, bedek met tinfoelie en bak in die voorverhitte oond vir sowat 80 minute tot die hoender en rys sag en gaar is. Pas die geur verder aan, indien nodig.

Roer 'n lekker handvol gekapte pietersielie by net voor opdiening. Sit voor saam met 'n groente van jou keuse.

Genoeg vir sowat ses mense.
 
 
Probeer gerus bruinrys by die gereg.