Friday 18 November 2011

Perskekonfyt geskik vir diabete


 (Idees Tydskrif)

Maak: Omtrent 1 liter
Bereidingstyd: 30 minute
Gaarmaaktyd: 40 minute

• 750 g geskilde droëperskes
• 2 ml sitroensuur
• kookwater om te bedek
• 5 ml wynsteensuur
• 1 liter koue water
• 650 g xylitol


1 Sit die perskes vir ’n paar uur in die vrieskas om hard te raak. Kap die perskes in ’n voedselverwerker. Hoe fyner jy dit kap, hoe gladder gaan die konfyt wees. Sit dit in ’n groot bak en bedek met kookwater om sag te word. Voeg die sitroensuur by en roer deur om te keer dat die perskes verkleur. Laat staan vir omtrent 15 tot 20 minute.

2 Gooi die water van die perskes af. Sit die perskes en die wynsteensuur in ’n groot pot en bedek met 1 liter koue water. Verhit tot kookpunt. Verlaag die hitte en roer die xilitol by. Laat prut vir omtrent 30 minute of tot dit stolpunt bereik het. Toets dit vir stolpunt deur ’n bietjie van die mengsel te drup op ’n koue bord wat in die vrieskas was. Laat vir 30 sekondes afkoel. As dit stolpunt bereik het, sal dit plooitjies maak as jy met jou vinger daarteen druk. Indien nie, sal dit terugloop in die oop spasie in.

3 Wanneer die konfyt klaar is, gooi dit in gesteriliseerde flesse en verseël. Laat afkoel en versier met ’n mooi kaartjie en gee dit vir iemand as ’n geskenk. Jy kan ’n skon daarmee saam gee, as jy wil.