Vir 'n kruie tuintjie het mens nie altyd 'n sterk en stewige swaar naambordjie nodig nie. Somtyds is dit net potplantjies en wil jy darem net ietsie daarby sit sodat jy onthou watter plantjie is watter een. (Nou nie almal van ons is mos kenners van formaat oor kruie nie.)
Hier is 'n maklike idee vir jou potplantjies. Neem sterk sosatie stokkies. Plak dit vas aan dun hout blokkies (masonite / hard board) met "no more nails" en verf die hout blokkies met swartbord verf. Jy kan dit in enige vorm maak. Kry vir jou die buitelyn-skets van iets waarvan jy hou (bv. hasies, skoenlappers, blomme, bytjies....) en sny dan die hout naamplaatjie in die vorm uit. Jy kan selfs die buite rand van die vormpie dan met 'n helder kleur verf.
Skryf dan jou kruie se naam daarop en as jy volgende keer ietsie anders plant, is dit maklik om net die naam te verander.