Friday 6 July 2018

Murgpampoentjie plaatkoekies met sampioene en gevulde tamaties



Murgpampoentjie plaatkoekies met sampioene en gevulde tamaties
Bestanddele

Plaatkoekies
1 koppie (250ml) koekmeel
1 teelepel (5ml) sout
1 teelepel (5ml) bakpoeier
1 eier, geklits
1 koppie (250ml) melk
6 mediumgrootte murgpampoentjies, fyn gerasper
1 knoffelhuisie, fyn gedruk
Sout en gemaalde swartpeper
Olyfolie vir braai

Gevulde tamaties
250g kersietamaties
100g Camembertkaas, in blokkies gesny
1 eetlepel olyfolie
250g sampioene, in skywe gesny
‘n paar grasuie, fyn gekap
1 eetlepel olyfolie

Metode
Voorverhit die oond tot 180°C.
Sif die meel, bakpoeier en sout saam in ‘n groot mengbak.
Meng die eier en melk met die gerasperde murgpampoentjies en knoffel en voeg dit by die meel. Meng tot ‘n loperige deeg (voeg ‘n klein bietjie ekstra melk by indien die deeg te dik is).
Geur met sout en gemaalde swartpeper.
Sny die bokant van elke tamatie af en verwyder die binnekante met ‘n teelepel. Vul elke tamatie met ‘n blokkie Camembertkaas. Plaas op ‘n bakplaat, sprinkel met olyfolie en bak in die voorverhitte oond vir 8 – 10 minute tot gaar en die kaas gesmelt.
Verhit ‘n bietjie olyfolie in ‘n pan en skep lepelsvol van die plaatkoekiebeslag in die pan (gebruik ‘n groterige ronde koekiedrukker om plaatkoekies van presies dieselfde grootte te maak). Braai tot gaar en goudbruin aan beide kante. Dreineer op kombuispapier om van oortollige olie ontslae te raak.
Braai die sampioenskywe in ‘n warm pan tot goudbruin en sprinkel met gekapte grasuie.
(RSG)