Wednesday 9 May 2018

Kannie-flop blits botterbroodjies



Kannie-flop blits botterbroodjies
Al wat jy nodig het is…
2 koppies bruismeel (self-raising flour)
2E strooisuiker
klein knippie sout
derde koppie koue gesoute botter (80g), in klein blokkies gesny
¼ koppie melk
1 eier, geklits
eier/melkmengsel vir verf (1 eiers geklits met 3E melk)
Sit die meel, sout, suiker en botter in jou voedselverwerker en pols die mengsel tot dit soos broodkrummels lyk. Gooi die geklitse eier by en pols tot deurgemeng. Voeg die melk by en meng tot die deeg bymekaar kom. (Jy sal aanvanklik dink dit lyk hopeloos te droog en krummelrig, maar moenie toegee aan die kombuisduiwel en nog vloeistof bygooi nie. Die lotjie kom tog op die ou end bymekaar. Belowe!)
Keer uit op ’n meelbestrooide oppervlak en rol met ’n koekroller uit. As jy groterige botterbroodjies maak (5cm koekiedrukker), rol die deeg 3cm dik. As jy piepklein, vroulike een-happie nommertjies verkies soos ek gemaak het (3cm drukker) moenie die deeg dikker as 2cm uitrol nie. Druk botterbroodjies uit met ronde koekiedrukker en plaas hulle op ’n bakplaat gespuit met Spray ’n Cook of gesmeer met botter. Verf met die eier/melkmengsel. Bak in ’n 220 grade Celsius oond vir 10 minute of tot deurgebak en goudkleurig. Bedien warm.