Monday 26 March 2018

Melktert



Huiskok se heerlike Melktert
Maak 2 terte
Vir die skilferkorsdeeg
500g botter
500g (4k) meel
5ml (1t) sout
2 eiergele
300ml yswater
20ml (4t) suurlemoensap of brandewyn
ekstra eierwit, vir oorverf
Vir die vulsel
750ml (3k) volroom-melk
sowat 6 perskeblare of 2,5ml (½ t) amandelgeursel
75ml (5e) suiker
2 stukke pypkaneel
37,5ml (2½e) meel
37,5ml (2½ e) mielieblom
5ml (1t) sout
3 eiers, geskei
Begin met die skilferkorsdeeg:
1. Deel die botter in drie gelyke dele en hou dit in die vrieskas.
2. Sif die meel en sout saam in ’n mengbak.
3. Klits die eiergele, yswater en suurlemoensap of brandewyn saam. Voeg dit by die meel en meng totdat ’n stywe deeg vorm.
4. Knie die deeg tot glad en elasties – sowat 5 minute lank. Laat val die deeg 100 keer op ’n meelbestrooide werkoppervlak.
5. Rol die deeg in ’n vierkant van 35cm x 35cm en rasper ’n derde van die yskoue botter oor die deeg. Vou die deeg na die middel, sye bo-oor en koppe oormekaar. (Soos ’n mens ’n laken opvou.)
6. Rol weer uit, rasper nog ’n derde van die botter oor die deeg en vou weer soos beskryf. Herhaal nog een keer om die laaste botter te gebruik. Plaas die deeg oornag in ’n plastieksakkie in die yskas.
7. Rol die deeg uit en voer twee blikborde met die deeg uit. Verf bodem liggies met eierwit.
Nou is jy gereed om die vulsel te maak:
8. Voorverhit die oond tot 200°C.
9. Verhit die melk, die perskeblare of amandelgeursel, die helfte van die suiker en pypkaneel in ’n kastrol oor matige hitte. Verhit tot kookpunt.
10. Meng die res van die bestanddele, behalwe die eierwitte, saam met nog ’n bietjie melk en roer vinnig by die melkmengsel sodra dit begin kook. Kook totdat die mengsel dik is. Roer aanhoudend. Verwyder van die hitte.
11. Klits die eierwitte tot styf en vou dit by die melkpap in. Skep in die voorbereide deegkors. Bak 30 minute lank totdat bruin vlekke bo-op begin vorm. Eet louwarm.
Melktertwenke
* Gebruik perskeblare, pypkaneel, nartjieskil, vanielje of kardemom as geurmiddel.Wees spaarsamig met die amandelgeursel en gebruik ’n bietjie vanielje daarmee saam.
* Volgens Peter Veldsman kan drie of vier appelkoospitte saam met die melk gekook word vir ’n amandelgeur.
* Die koskenner Lochner de Kock sprinkel gemmer oor die deegkors voordat die melktertpap ingegooi word.
* As die eiers bleek is, gebruik ’n mespunt borrie om die vlapap se kleur te verdiep.
* Gebruik ’n plat bord met ’n oorhangrand, soos ’n blikbord, wat die hitte goed versprei. As die blikbord baie dun is, gebruik twee borde opmekaar.
* Rol deeg altyd net in een rigting–weg van jou af. Moenie die deeg rek nie,anders krimp dit met mening terug.
* Vir selfs swieriger pof, plaas ’n ekstra strook deeg, sowat 4cm breed, om die rand van die tertbord (direk op die bord, of bo-oor die deegvoering). Verf yswater op sodat die deeglae kan kleef.
* Moet liefs nie die uitgerolde deeg in borde in die yskas sit nie, want dit kan die kors aan die onderkant laat taai bak.
* Gooi die vulsel kokend op die uitgerolde deeg om te keer dat die kors taai word.