Tuesday 22 August 2017

Smullekker Aartappelkoek



Smullekker Aartappelkoek
Genoeg vir: 8 porsies as bygereg
Bereidingstyd: 30 minute
Oondtemperatuur: 180 °C
Baktyd: 1½ uur...

• 1 kg aartappels, met ’n mandoliensnyer in dun skyfies gesny
• 15 ml elk botter en olyfolie
• 4 groot preie, dun gesny
• 250 g spek, brosgebraai
• 250 ml room
• 2 eiers, geklits
• sout en varsgemaalde swartpeper

1. Voorverhit die oond. Voer die bodem van ’n 20 cm-veerklamppan met gesmeerde bakpapier uit (jy kan dit ook in ’n vuurvaste oondbak maak, dis net effens moeiliker om te sny en voor te sit).

2. Kook die aartappelskyfies in soutwater vir sowat 10 minute, dreineer en druk goed droog – wees versigtig, die dun skyfies is maar broos! Smelt die botter en olie en braai die preie tot net gaar; meng dit met die spek.

3. Rangskik die helfte van die aartappelskyfies op die bodem van die koekpan, lagie op lagie met sout en peper en met die helfte van die preimengsel tussenin gesprinkel. Klits die room en eiers saam, geur met sout en peper en giet die helfte oor die aartappels. Pak nou verder lagies aartappel en prei-en-spekmengsel tot die koekpan vol is (onthou die sout en peper) en giet die res van die roommengsel oor. Bedek met foelie en bak dit vir sowat 1 uur. Verwyder die foelie en bak die koek vir nog sowat 30 minute of tot goudbruin. Gebruik ’n toetspen om te kyk of die aartappelkoek deurgaar is. Laat ’n rukkie afkoel voor jy die rand van die koekpan verwyder.

WENK Rond die koek af met ekstra bros spek en geroosterde kersietamaties vir ’n hoofgereg; vir bykos is dit heerlik net so.

(Tuis)