Steak-broodjies
(vir 2 broodjies)
◾2 groot rosa-tamaties...
◾30 ml olyfolie
◾sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
◾2 uie, gehalveer en in skywe gesny
◾200 g lendeskyf (sirloin steak)
◾sap van halwe suurlemoen
◾30 ml basiliekruid-pesto
◾4 snye Portugese brood, gerooster
◾handvol vars roket
Verhit oond tot 180 °C. Halveer tamaties en sit in ‘n oondbak. Sprinkel helfte van olyfolie oor en geur met sout en peper. Bak vir 15 – 20 minute. Terwyl die tamaties in die oond is, verhit res van olyfolie in pan en braai uie sowat 30 minute lank oor lae hitte tot bruin. Halveer steak sodat jy twee dunner steaks het. Gooi suurlemoensap oor en geur met sout en peper. Verhit riffelpan en braai vleis weerskante. (Hoe lank sal afhang van hoe gaar jy jou steak wil hê.) Smeer pesto op een van die snye geroosterde Portugese brood en sit vars roket bo-op. Sit steak bo-op en dan twee gebakte halwe tamaties. Skep gebraaide uie bo-op en maak toe met ander sny roosterbrood. Sit onmiddellik voor.
(Sarie)