Friday, 9 June 2017
AARTAPPEL OMELET MET BILTONG
AARTAPPEL OMELET MET BILTONG
Vir 6
Voorbereityd 10 minute...
Gaarmaaktyd 20 minute
Dié tradisionele Spaanse omelet is maklik om in ’n pan oor die
vuur te maak. Jy kan dit ook in dik skywe sny en inpak vir padkos.
JY BENODIG:
3 eetlepels botter
1 ui, fyngekap
1 knoffelhuisie,
fyngekap
3 hande vol sagte biltong, dungesny
olyfolie
4-6 groot aartappels, gekook en in dun skywe gesny
8 plaaseiers, geklits
1 eetlepel growwe mosterd
sout en swartpeper na smaak
SO MAAK JY:
Verhit die botter in ’n pan oor die kole en braai die uie en knoffel stadig totdat dit sag is, maar nie bruin nie.
Skep dit uit die pan en meng dit met die helfte van die biltong.
Gooi ’n bietjie olyfolie in dieselfde pan en sit dit oor matige hitte.
Bedek die bodem van die pan met ’n laag van die aartappelskywe en skep lepels van die uie-en-biltongmengsel bo-oor. Herhaal die
lae totdat die aartappels op is.
Klits die eiers en mosterd saam, gooi sout en swartpeper na smaak by, en giet dit oor die aartappels.
Gebruik ’n houtlepel en druk deurentyd die omelet weg van die kant af. Laat die omelet gaar word.
Gebruik ’n eierspaan en keer die omelet uit in ’n bord met die rou kant na onder.
Gooi ’n bietjie olie in die pan en glip die omelet met die rou kant na onder terug in die pan. Braai dit vir nog 5 minute.
Keer die omelet uit en sny dit in skywe. Sprinkel die res van die biltong oor en sit dit voor met ’n Griekse slaai.