Wednesday 8 July 2015

Maak ’n heerlike volstruis-wellington




Maak ’n heerlike volstruis-wellington
Volstruis-wellington
Genoeg vir 4 mense
Dis wat jy gaan nodig kry:
•1 groot volstruisfilet
•500 g knopiesampioene
•1 ui
•8-10 velle Parma-ham
•150 g koekmeel
•325 ml (1⅓ k) melk
•50 ml room
•1 groot eier
•1 pak (400 g) botter-skilferkorsdeeg
•100 g botter
•4 preie
•1 bossie grasuie
•30 g Cheddarkaas, gerasper
•30 ml room
•1 eier geklits saam met 15 ml (1 e) water
Maak so:
Sny die rande van die vleis as en verwerk saam met die room in ’n voedselverwerker tot glad. Verwyder en plaas in die yskas om ’n mousse te vorm. Verwerk die sampioene in ’n voedselverwerker tot dit soos broodkrummels lyk. Kap die ui. Sweet albei in ’n pan tot al die vloeistof verdamp het. Sit die filette in ’n warm pan en verseël alle kante van die vleis. Geur met sout en peper. Laat afkoel en verkoel in die yskas saam met die sampioene en mousse.
Vir die pannekoeke: Meng die meel, eier en melk; geur. Verhit botter in ’n pan, maak dun pannekoeke en verkoel. Lê die pannekoeke neer op ’n dubbellaag kleefplastiek, genoeg om die vleis en ham in ’n laag te kan neersit. Lê die ham op die pannekoeke neer. Meng die sampioene en ui met die mousse en smeer oor die ham. Sit die vleis in die middel en rol die plastiek styf om ’n silindervorm te skep. Verkoel weer om dit in sy vorm te hou. Rol die deeg uit en verf die binnekant met die eiermengsel. Sit die silinder in die middel sonder om enige gapings te laat. Verf buiteom met die eiermengsel, sit oop ’n oondrak en verkoel weer. Laat 1 uur rus. Voorverhit die oond tot 220 °C en sit die wellington in die middel van die oond. Bak 25-30 minute tot die deeg goudkleurig is.
Sny die preie in dun skywe en was. Kook 2 minute in water, dreineer en druk die ekstra water uit. Sit die room in ’n pan en kook. Voeg die preie by en herverhit. Voeg geurmiddels en kaas by, kap die grasuie en roer in. Verwyder die wellington en laat 5 minute staan.
Sny die wellington in porsies en sit voor saam met die roompreie.
Belangrik:
In die meeste resepte kan vleis met volstruis vervang word. Die geheim is om dit nie oorgaar te maak nie. Omdat daar min vet in is, raak die vleis gou gaar, krimp min en raak baie gou droog. Om dit te voorkom moet die vleis so gou moontlik teen die warmste temperatuur moontlik gekook word. Die perfekte volstruisfilet of steak is pienk tot halfgaar, sappig en sag. Ideaal moet steak en filet medium-gaar voorgesit word. Gaar volstruisvleis gaan droog wees.