Tuesday 2 June 2015

Rooifluweel-kolwyntjies: Wenke en resep




Rooifluweel-kolwyntjies: Wenke en resep

In episode 9 van Koekedoor word daar hulde gebring aan tuisnywerhede met tafels wat kreun onder outydse melktert, Jodetert en vlaskywe. Tuisnywerheid-treffers is dié wat uitstaan bo die res, en rooifluweel-kolwyntjies het sonder twyfel visuele trefkrag.
Christie-Anne Wolmarans van Cooking Foody sê kolwyntjies is steeds gewild omdat dit lekker lank vars bly en mense nie noodwendig ’n groot stuk koek wil hê nie. Boonop kry jy die gevoel die kolwyntjie is spesiaal vir jou gemaak.
image028
Dié bakker woon in Fourways in Johannesburg, en kyk graag Koekedoor. “Ek en my spanmaat, manlief Gerhard, lag ons trommeldik vir die program, en geniet die uitdagings – en Mari-Louis se glimlag, natuurlik!”
Sy bak sowat sewe tot tien koeke per week, wat troukoeke insluit. “Ons bak en brou en versier so tussen die Koekedoor-kykery deur!”
Dis veral vir haar ’n hoogtepunt om “die klein dogtertjie of seuntjie se gesiggie te sien wanneer hulle die verjaardagkoek sien wat vir hulle gebak is.”
Die bestelling wat tot dusver vir haar uitgestaan het was ’n versoek van Johnny Hamman (Kokkedoor 2-wenner) se vriende om vir hom ’n “Smartie Pants”-verjaardagkoek te bak. “Dis glo ’n grappie tussen hom en sy vriende,” sê Christie-Anne. “Dit was heerlik om sy glimlag te sien, aangesien dit vir ’n verrassingspartytjie was.”
image019
Sy deel die volgende wenke vir kolwyntjies:
  • Vir ekstra geur aan rooifluweel-kolwyntjies, vervang die karringmelk met aarbei-jogurt.
  • Vir reënboog-kolwyntjies, verdeel die mengsel tussen 4-6 verskillende bakkies, en voeg verskillende kleursels en geursels by. Skep ’n halwe teelepel van elk in die kolwyntjie-papiertjies van 1-24 en begin dan weer van vooraf tot ¾ vol. (Kinders is mal daaroor).
  • Gebruik volvet-roomkaas vir die versiering, want laevet-roomkaas maak ’n slap versiersel.
  • Maak seker dat jou bestanddele teen kamertemperatuur is.
Hier is Christie-Anne se resep vir rooifluweel-kolwyntjies (lewer 24 mediumgrootte kolwyntjies):
Jy benodig ’n mengbak, outydse roomyslepel, sif, kolwyntjie-papiertjies, deegskraper en kolwyntjie-pan. (Net een pannetjie op ’n slag in die oond, op die middelrakkie)..
Bestanddele
2 ½ k koekmeel
1 ½ k suiker
1 t koeksoda
1 t kakao poeier
1 t sout
1 k karringmelk
2 ekstra groot eiers, kamertemperatuur
1 ½ k canola-olie
1 t wit asyn
1 t rooi “gel” voedselkleursel, beskikbaar by bakwinkels (Hoeveelheid hang af van hoe “diep” die kleur is wat jy verlang)
1 t vanielje-ekstrak (Nomu is baie goed vir bak)
Suurlemoenskil (opsioneel)
Metode
  1. Voorverhit oond teen 175° C.
  2. In ’n groot mengbak sif die meel, suiker, koeksoda, kakaopoeier en sout saam.
  3. Voeg by jou droë bestanddele die karringmelk, eiers, olie, asyn, voedselkleursel en vanielje-ekstrak.
  4. Meng die meelmengsel en die nat mengsel saam met ’n goeie boere-arm (koekskraper). As jy dit met ’n menger meng, meng net tot deur gemeng en nie tot oormeng nie (omtrent 2 minute).
  5. Vat nou jou outydse roomyslepel met die veer in, en skep gelyk skeppies in elke papiertjie (so maak jy seker hulle rys ewe hoog).
  6. Plaas jou eerste pannetjie kolwyntjies in die oond en bak vir 18-20 minute (kyk mooi deur die oondvenster dat hulle nie meer nat is bo nie).
  7. Haal die kolwyntjies uit en laat afkoel voor jy dit versier.
Roomkaas-botterversiersel:
1 houer Philadelphia-volvet-roomkaas, kamertemperatuur
125g botter (kamertemperatuur)
2-3 koppies versiersuiker (Hoeveelheid hang af van hoe dik jy dit wil hê. Om te versier moet dit bietjie stywer wees teenoor ’n smeer vir in ’n koek)
Vanielje-ekstrak of vars vanielje
Metode
  1. In ’n aparte bakkie, klits die roomkaas tot glad en hou eenkant.
  2. In ’n mengbak, meng die botter tot glad en romerig.
  3. Sif die versiersuiker by die botter, voeg vanielje by en meng dan die roomkaas 1 eetlepel op ’n slag by die botterversiersel, tot glad.