Friday 19 June 2015

Quiche Lorraine




Quiche Lorraine
Hierdie is een van die beste en eenvoudigste quiche-resepte en vereis nie dat jy die kors blindbak nie. Pa sal dit geniet as hy lief is vir spek en kaas.
Genoeg vir 8...
Jy benodig:
Vir die deeg:
350 ml (180 g) koekmeel
15 ml versiersuiker

150 g botter (koud)
40 ml water
Vir die vulsel:
25 ml botter
1½ pakkie (375 g in totaal) spek, in dun repies gesny
3 eiers
250 ml vars room
50 ml gekapte vars grasuie
250 ml (100 g) gerasperde Gruyèrekaas
sout en swartpeper
Só maak ’n mens:
1. Om die deeg te maak, meng die meel, versiersuiker en botter saam in ’n voedselverwerker en pols totdat die botter deurgemeng is en die mengsel soos broodkrummels lyk. Voeg die water ’n bietjie op ’n slag by terwyl jy die verwerker pols tot die deeg net-net gemeng is en ’n bal vorm.
2. Draai die deeg in kleefplastiek toe en plaas 30 minute lank in die yskas voordat jy dit gebruik.
3. Rol die deeg sowat 3 mm dik uit op ’n oppervlak wat liggies met meel bestuif is. Voer ’n gesmeerde quichebord met die deeg uit.
4. Voorverhit die oond tot 180 °C.
5. Vir die vulsel, verhit die botter in ’n pan en braai die stukkies spek totdat dit net-net begin verbruin. Klits die eiers en room saam in ’n bak. Voeg die
grasuie, gerasperde kaas en spek daarby. Geur en giet in die ongebakte tertkors.
6. Bak sowat 30 minute lank en sit dit voor.