Wednesday 3 June 2015

Pampoen-plaatkoekies met botterkaramelsous




Pampoen-plaatkoekies met botterkaramelsous
As jy lus het vir sout en soet op een bord, maak pampoenplaatkoekies met spek en bedruip met botterkaramelsous.
Genoeg vir: 9
Bereiding: 15 min.
Gaarmaak: 30 min.
200 g strepiespek
Plaatkoekies
 150 g pampoen, geskil en in stukke gesny
 250 ml (1 k) bruismeel
 5 ml (1 t) bakpoeier
 250 ml (1 k) karringmelk
 10 ml (2 t) kaneel
 1 eiergeel
 5 ml (1 t) strooisuiker
 2 eierwitte, geklop
 30 ml (2 T) olie
 125 ml (½ k) donkerbruinsuiker
Botterkaramelsous
 160 ml (⅔ k) room
 50g botter
 250 ml (1 k) donkerbruinsuiker
 10 ml (2 t) vanieljegeursel
1.Plaas die pampoen in ’n pot met 30 ml (2 e) water, laat kook en verminder hitte en laat saggies kook tot sag. Druk die pampoen fyn tot glad.
2.Sif die meel en bakpoeier in ’n groot bak en voeg die karringmelk, 2,5 ml (½ t) kaneel, eiergeel en suiker by. Klits om te meng.
3.Voeg die fyngedrukte pampoen by en vou die eierwitte daarby in. Plaas ’n kleefvrye pan oor matige hitte en voeg ’n bietjie olie by. Skep lepels vol beslag in die warm olie en braai weerskante tot goudkleurig en opgepof. Meng die oorblywende kaneel en oorblywende suiker en laat staan eenkant.
4.Botterkaramelsous: Voeg al die bestanddele in ’n kastrol oor lae hitte en kook tot die botter gesmelt en die mengsel goed gemeng is. Laat dit 10 min. saggies kook of tot die mengsel dik en blink is.
5.Pak die spek op ’n bakplaat en laat dit 8 min. in oond bak. Bedruip botterkaramelsous oor die spek en sit dit vir nog 3 min. in die oond.
6.Sit die plaatkoekies voor saam met spek en bedruip met botterkaramelsous.