Friday 26 June 2015

Lemoen en pomelo tertjies




Lemoen en pomelo tertjies
Deeg:
½ k (125 ml) polenta
2 k (500 ml) koekmeel
½ t (2.5 ml) sout
3 e (45 ml) versiersuiker, gesif
100 g botter, in blokkies gesny
1 eier, geklits
100 ml yswater
Meng die polenta, meel, sout en versiersuiker in ‘n mengbak saam. Plaas die bestanddele in ‘n voedselverwerker en voeg die botter by. Verwerk totdat die mengsel soos growwe broodkrummels lyk. Roer die eier en water saam en voeg bietjie vir bietjie by tot dit ‘n deeg vorm. Bedek die deeg met kleefplastiek en plaas in die yskas vir 20 minute.
Vulsel:
¼ k (± 65 ml) mascarpone-kaas
2 e (30 ml) appelkooskonfyt
2 lemoene, geskil en in segmente gesny
1 pomelo, geskil en in segmente gesny
2 e (30 ml) amandelvlokkies, liggies gerooster
Voorverhit oond tot 180°C. Spuit ‘n 6-holte muffinpannetjie met kleefwerende sproei.
Rol die deeg op ‘n skoon, meelbestrooide oppervlak uit tot
± 5 mm dikte. Gebruik ‘n ronde koekiedrukker om 6 x 10 cm deursnee sirkels uit die deeg te druk. Voer die muffinpannetjie-holtes met die deegsirkels uit om ‘n tertdoppie te vorm. Verdeel die marscapone-kaas en appelkooskonfyt tussen elke tertdoppie/bakkie. Rangskik die lemoen en pomelo segmente daarop en vou die oortollige deeg effens om die vrugte. Bak vir 25 tot 30 minute of tot die deeg gaar is. Sprinkel met die amandelvlokkies en bedien.