Thursday 25 June 2015

Jou 30 beste huishou-wenke




Jou 30 beste huishou-wenke
Van hoe om jou mikrogolfoond skoon te maak tot hoe om die ergste vlekke uit te kry, ons het die antwoorde.
1 Sit ‘n oop boksie koeksoda of ‘n stukkie steenkool in jou yskas om reuke uit te kry.
2 Kry roes van chroom af deur dit af te vee met ‘n stukkie tinfoelie wat in kolakoeldrank gedoop is. Vryf dit dan blink met ‘n opgefrommelde stukkie foelie.
3 Maak jou koffiemasjien skoon deur die waterhouer helfte-helfte met water en asyn te vul. Sit ‘n skoon filterpapiertjie in die filtermandjie en laat die masjien deur ‘n volle siklus loop. Doen dit nog twee keer, maar dan net met water.
4 Voeg ‘n halwe koppie koeksoda by jou gewone wassiklus om vlekke en reuke uit jou wasgoed te kry.
5 Poets jou vlekvryestaal-messestel blink deur dit af te vee met ‘n lap wat in asyn gedoop is.
6 Keer dat jou wasbakke verstop raak deur elke paar weke ‘n paar eetlepels koeksoda in die afvoerpyp te gooi en dit met warm water weg te spoel.
7 Sit ‘n suurlemoen vir 15 sekondes in die mikrogolf voor jy die sap uitdruk. So sal jy meer sap uitkry.
8 Was hande wat vol ghries en olie is met ‘n mengsel van opwasmiddel en suiker.
9 Laat jou kerse langer hou deur hulle in ‘n plastieksakkie te sit en vir 24 uur in die vrieskas te bêre voor jy hulle aansteek.
10 Kry die ergste verfreuk weg deur twee teelepels vanieljegeursel by een en ‘n half liter verf te voeg.
11 Kry oliekolle uit delikate materiale deur mielieblom op die kol te gooi. Laat dit vir ‘n paar uur so staan. Skud die meel af en was die item dan met die hand of in jou masjien met die siklus vir fyn stowwe. gebruik ‘n wasmiddel vir fyn stowwe.
12 Raak ontslae van vingermerke op vlekvryestaal-toestelle deur ‘n bietjie baba-olie op ‘n lap te sit en die merke af te vee.
13 As ‘n laai vassit, vryf ‘n koekie seep al langs die lopers langs sodat dit weer glad is.
14 Vee met klam rubberhandskoene oor klere en meubels om kat- en hondehare af te kry.
15 Maak jou mikrogolf skoon deur vier eetlepels suurlemoensap en ‘n koppie water in ‘n mikrogolfbakkie te gooi. Sit dit vir vyf minute op hoog in die mikrogolf, laat die stoom binne die oond kondenseer en vee dit dan skoon met ‘n sagte lap.
16 Kry kalk-aanpaksels uit jou wasmasjien deur ‘n koppie wit asyn in die waspoeier-vakkie te sit en die masjien leeg deur ‘n volle warm siklus te laat loop.
17 Maak die onderkant van jou strykyster skoon deur ‘n skoon lap op jou strykplank te sit, dit vol growwesout te strooi en met jou strykyster op sy hoogste gestel heen en weer oor die lap te stryk.
18 Kry mufkolle uit die badkamer deur een deel bleikmiddel met 11 dele water te meng. Trek rubberhandskoene aan en gebruik ‘n spons, ‘n borsel met sagte hare of ‘n lap om die muf af te vee. Vee dit skoon met ‘n klam spons en vryf dit dan droog.
19 Verwyder vlekke uit plastiekbakke deur koeksoda en warm water tot ‘n pasta te meng. Skrop die bakke met ‘n borsel met nylon-hare.
20 Kry roesvlekke uit wit klere met ‘n mengsel van kremetart en suurlemoen-sap. Sit dit op die kol en laat dit droog word voor jy dit deeglik uitspoel en gewoonweg was.
21 Keer dat vetterigheid so gou binne jou stoof aanpak deur dit elke nou en dan met ‘n lap af te vee wat in asyn gedoop is.
22 Raak ontslae van merke op gladde leerskoene deur met die gesnyde kant van ‘n rou aartappelhelfte daaroor te vryf en dit dan te poets.
23 Kry deodorantvlekke uit klere uit deur twee aspirientablette in ‘n klein bietjie warm water op te los. Meng dit tot ‘n pasta en smeer dit op die vlek. Laat dit droog word voor jy dit afvee en die item gewoonweg was. Let wel Toets dit eers iewers op ‘n onopsigtelike plekkie om seker te maak die kleur kom nie uit nie.
24 Maak ‘n vaas met ‘n nou nek skoon deur dit met warm water te vul en ‘n paar kunsgebitskoonmaakpille daarby te voeg. Laat dit oornag so staan voor jy dit goed uitspoel met skoon water en laat droog word.
25 Maak ‘n kapbord skoon deur een teelepel bleikmiddel met een liter water te meng. Wend dit direk op die oppervlak aan met ‘n skropborseltjie. Moenie afspoel nie. Laat die bord op sy sy lugdroog raak.
26 Kry ou verfkolle uit hout of plastiek deur dit met lynsaadolie sag te maak. Vryf dit skoon met ‘n sagte lap. Dieper vlekke kan jy versigtig met ‘n skeermeslemmetjie afskraap.
27 Maak jou koffiemeul skoon deur elke nou en dan ‘n koppie rys daarin te maal. Dit maak sommer ook die lemmetjies weer lekker skerp
28 Laat jou huis lekker ruik deur lemoenskil, kaneelstokkies, ‘n paar naeltjies en ‘n lourierblaar vir ‘n halfuur in ‘n pot water te laat prut.
29 Spoel jou skoongemaakte kwaste met ‘n bietjie wasgoedversagmiddel af om die kwashare weer sag te maak vir jou volgende projek.
30 Kry vlekke uit ‘n teepot deur dit te vul met koue water. Voeg chloor-bleikmiddel of ‘n kunsgebit-skoonmaakpil daarby. Laat staan vir ‘n uur en spoel deeglik uit.