Tuesday 2 June 2015

Hoe om die blink (goud) kant bo te hou

Herman_Koek_resized
In die eerste episode van Koekedoor is Gerda aangewys as die wenner met haar bak van Herman Lensing se spog-sjokoladekoek wat met bladgoud bedek is (kyk die video hier onder vir Gerda se wenke). Ons gee ’n paar wenke oor hoe om met dié uiters delikate materiaal te werk wanneer jy ’n ietsie ekstra aan jou gebak wil gee.
Wat is bladgoud?
Bladgoud is regte goud wat gehamer is tot baie dun velle. Dit word dikwels in kuns en die maak van juweliersware gebruik, maar ook in kookkuns (en in sommige likeure, soos Goldschläger). Dit is smaakloos en reukloos en word slegs gebruik omdat dit mooi lyk.
Hoe gebruik jy dit?
Met Herman se sjokoladekoek is die bladgoud in heel velle aangewend, maar dit word meer dikwels in klein stukkies op byvoorbeeld sjokoladetruffels gebruik. Ons het by About.com se kosafdeling gaan kers opsteek oor hoe om dit te doen.
  • Omdat bladgoud so delikaat is en maklik kan frommel en skeur, probeer om dit nie met jou kaal hande aan te raak nie – dit sal aan jou vingers vassit.
  • Gebruik ’n baie skerp mes en sagte, droë (skoon!) verfkwas; sny ’n stukkie van die bladgoud met jou mes af en druk die teenoorgestelde hoek liggies met die verfkwas vas sodat die hele vel nie skeur nie.
  • Lig die stukkie goud met die punt van die mes op en gebruik die verfkwas om dit op die verlangde oppervlak vas te druk. Borsel dit liggies met die verfkwas om dit as’t ware aan te “verf”.
As jy nog nooit met bladgoud gewerk het nie, is dit ook ’n goeie idee om stap-vir-stap-foto-instruksies soos hierdie te raadpleeg.