Wednesday 20 May 2015

Martjie se sjokolade- en peertert



Martjie se sjokolade- en peertert

Bestanddele

TERTDEEG
Bestanddele
250 g botter
455 g koekmeel
5 ml sout
150 ml yswater
SJOKOLADE-FRANGIPANE
Bestanddele
100 g botter
100 g strooisuiker
4 eiers
100 g amandelmeel
30 g koekmeel
50 g donker sjokolade, gesmelt
GEPOSJEERDE PERE
Bestanddele
4 tot 5 pere, ferm en netjies afgeskil
200 g suiker
Sap van 3 medium suurlemoene
Fyngerasperde skil van 1 suurlemoen
Vanieljesaadjies van 1 peul
3 e brandewyn
750 ml water
Geklitste eier vir oorsmeer

Instruksies

TERTDEEG
Metode
1. Pols die meel en botter in ’n staanmenger totdat dit amper soos growwe broodkrummels lyk. Daar moet ertjiegrootte stukkies botter ook tussen-in wees.
2. Los die sout in die water op en gooi dit by die meelmengsel.
3. Pols die menger totdat die deeg ’n bal vorm. Draai die deeg toe in kleefplastiek en verkoel in die yskas.
4. Smeer ’n tertpan en voer dit uit met die deeg. Hou in yskas.
SJOKOLADE-FRANGIPANE
Metode
1. Room die botter en die strooisuiker liggies saam.
2. Voeg die eiers een vir een by en meng goed.
3. Vou die amandel- en die koekmeel mooi in en voeg dan laastens die gesmelte sjokolade by.
4. Laat rus in die yskas.
GEPOSJEERDE PERE
Metode
1. Voeg al die bestanddele behalwe die pere in ’n klein, hoë swaarboomkastrol. (Die pere moet daarin kan pas). Roer oor lae hitte totdat die suiker opgelos is.
2. Voeg die pere by en laat dit posjeer totdat dit mooi sag, maar ferm is. Verwyder die pere en laat dit afkoel.
3. Sny in mooi en dun, lang repe.
SAMESTELLING VAN DIE TERT
1. Voorverhit die oond tot 200 °C.
2. Smeer ’n dun laag van die sjokolade-frangipane op die basis van die tertdeeg.
3. Rangskik die pere mooi netjies in ’n patroon bo-op die frangipane.
4. Maak ’n mooi versierde bokant met die orige deeg; doen vlegwerk of uitsnywerk daarmee.
5. Plaas dit op die pere en versier die rand van die tert ook met blaartjies of mooi vorms.
6. Smeer die bokant van die tert met geklitste eier.
7. Bak die tert vir 30-45 minute tot mooi goudbruin.
8. Sit die tert voor met geklopte room.