Friday 29 May 2015

Martjie se drywende eilande


Martjie se drywende eilande

Bestanddele

Heuning- en karamel-springmielies
2e olie
100g springmieliepitte
175g strooisuiker
15g heuning
75g botter
Growwe soutvlokkies
Spinsuiker
1k suiker
2e water

Heuning- en vanielje-madeleintjies

125ml botter
100g versiersuiker
40g amandelmeel
40g koekmeel
knippie sout
3 eierwitte
1e heuning
suurlemoenskil, fyn gerasper van een groot suurlemoen
Vanieljesaadjies van een peul
Crème Anglaise / Vla
300ml melk
300ml room
Vanieljesaadjiesvan een peul
100g strooisuiker
6 eiergele
Meringue-eilande
6 eierwitte
150g strooisuiker

Instruksies


Dié Franse nagereg is soortgelyk aan die sneeu-eiers uit ons eie soet-skatkis, waarvoor daar reeds resepte in ons vroegste Afrikaanse kookboeke opgeneem is. Vir die pronkgebak-uitdaging het Martjie die klassieke nagereg weer laat herleef met haar skeppende nuwe vertolking. Die uitdaging was ook om ’n ekstra element vir die see van vla te maak. Spinsuiker moes ook gebruik word.
Heuning- en karamel-springmielies
1. Verhit die olie oor warm hitte, voeg die mieliepitte by en hou die deksel skuins op. Hou die springmielies oor die hitte tot al die pitte geskiet het.
2. Plaas al die bestanddele behalwe die botter en sout in ’n pot en bring tot kookpunt sonder om dit te roer.
3. Voeg die botter by en beweeg die pot egalig heen en weer totdat die botter ingemeng is.
4. Giet die karamel oor die springmielies en gebruik twee vurke om dit deur te meng. Gooi dit uit op op ’n bakpapier en maak dit los van mekaar.
5. Sprinkel die soutvlokkies eweredig oor.
Spinsuiker
1k suiker
2e water
1. Berei ’n ysbad voor waarin die pot kan pas.
2. Plaas die suiker en water in ’n pot en verhit oor matige hitte en roer net todat die suiker opgelos het. Kook die suiker totdat dit mooi ligbruin is, 8-10 minute. Verf die kante aanhoudend met water sodat dit nie kristalisseer nie.
3. Sit die pot in die ysbad en laat die suiker afkoel tot dit bietjie verdik.
4. Plaas twee houtlepels met swaar potte op die kant van ’n werksoppervlak sodat dit oorhang. Plaas bakpapier op die grond reg onder die houtlepels.
5. Skep die karamel op met ’n metaallepel en gooi dit in ’n dun straal heen en weer oor die twee houtlepels. Werk vinnig. Hou aan tot genoeg stringetjies bymekaar gemaak kan word om ’n bolletjie te vorm. Maak genoeg bolletjies suikerwerk vir al die nageregte.
6. Hou die suikerwerk in ’n lugdigte houer.
Heuning- en vanielje-madeleintjies
1. Voorverhit die oond tot 180°C.
2. Verhit die botter oor hoë hitte totdat dit mooi verbruin, en roer nou en dan sodat dit nie vasbrand nie. Laat die botter effens afkoel.
3. Voeg al die ander bestanddele in ’n groot mengbak en roer dit met ’n klitser tot goed gemeng. Gooi die botter by en meng goed deur.
4. Spuit die madeleine-pannetjies met kleefwerende sproei. Giet die mengsel versigtig in die holtes. Moenie te vol maak nie.
5. Bak vir 10-12 minute tot goudbruin.
Meringue-eilande
Metode
1. Verhit die melk en die room oor lae hitte, voeg die vanieljesaadjies by.
2. Terwyl die melk en room verhit, maak solank die meringues. Klits die eierwitte teen hoë spoed met ’n elektriese klitser totdat dit stywe punte vorm, gooi eetlepel vir eetlepel strooisuiker by tot die meringues blink en dik is. Vryf die meringue tussen jou vingers om seker te maak dat al die suiker mooi oplos.
3. Kry ’n bakkie met water en hou dit eenkant.
4. Gebruik twee eetlepels om die meringues uit te skep. Doop dit in die water en gebruik die een lepel om die meringue op te skep en die ander een om die meringue mooi te vorm en in die kookmelk te laat val. Moenie te veel van die meringues op een slag maak nie. Dit word groter soos dit gaar word.
5. Hou die hitte laag en plaas die deksel op. Kook die meringues vir 4-5 minute aan elke kant. Dop dit versigtig om met ’n lepel.
6. Die meringues is gaar wanneer dit mooi ferm is.
7. Skep die meringues op kombuispapier en hou eenkant. Herhaal indien daar nog meringue oor is.
8. Gooi die kookmelk deur ’n sif in ’n skoon pot. Hou warm.
9. Klits die eiergele en strooisuiker vir die vla tot lig en dik. Dit moet mooi linte vorm soos wat die mengsel afloop van ’n lepel.
10. Gooi die melk in ’n dun straaltjie by die eiermengsel terwyl dit geklits word. Gooi dit weer terug in die pot en kook oor lae hitte vir 3-4 minute. Roer aanhoudend. Die vla moet die agterkant van ’n epel bedek.
11. Gooi weer deur ’n sif in die opdienbakkies. Verdeel in individuele bakkies of in een opdienbak.
12. Skep die meringues versigtig op die vla en versier met die gekarameliseerde springmielies, madeleintjies en suikerwerk. Dien dadelik op.