Wednesday 20 May 2015

Madeira-klapperkoek




Madeira-klapperkoek - Heilie Pienaar

Hierdie koek is ’n gewone madeirakoek met die klapper-meringue-bolaag. As kind het my ma ons dikwels hiermee bederf. Ek het verskeie aanpassings daaraan met sukses gemaak. Só voeg ek soms suurlemoenskil en -geursel by die madeirakoek, gekapte kersies of selfs speserye met fyn gekapte neute of dadels. Dit gee die gevoel van ’n ligter koek, miskien omdat dit nie versier word nie. Hou ook in gedagte dat die meringue ’n bietjie rys, maar effens sak wanneer dit afkoel.

Madeira-klapperkoek
Lewer 1 broodjie
125 g botter of margarien
100 ml strooisuiker
3 eiergele van ekstragroot eiers
5 ml (1 t) vanieljegeursel
250 ml (1 k) koekmeelblom
10 ml (2 t) bakpoeier
1 ml (knippie) sout
100 ml melk
Bolaag
3 eierwitte van ekstragroot eiers
100 ml strooisuiker
250?ml (1 k) droë klapper
Metode
1. Room die botter en suiker saam. Voeg die eiergele een op ’n slag by en klits goed ná elke byvoeging tot lig en romerig. Voeg die geursel by.
2. Sif die meel, bakpoeier en sout saam en voeg om die beurt met melk by die bottermengsel.
3. Skep in ’n gesmeerde 22,5 cm-broodpan en maak gelyk.
4. Bolaag: Klits die eierwitte tot styf. Voeg die suiker by en klits goed. Voeg die klapper by, meng deur en skep op die koekmengsel.
5. Bak omtrent 15 minute in ’n voorverhitte oond by 180 ºC. Verlaag die temperatuur tot 160 ºC en bak omtrent 40 minute. Laat effens afkoel in die pan en keer uit op ’n afkoelrak.