Thursday 14 May 2015

Gerrit se melktert




Gerrit se melktert

Bestanddele
Skilferkors
Bestanddele:
450g koekmeel
3ml sout
5ml kremetart
450g yskoue botter
250ml yswater
15ml suurlemoensap
Melktertvulsel (pap)
Bestanddele:
6 koppies melk
6 eetlepels botter
9 eetlepels koekmeel
1 ¼ koppie suiker
6 eiers
2 teelepels vanieljegeursel

Instruksies

Skilferkors
Metode:
1. Sif meel, sout en kremetart 2 keer saam.
2. Deel die botter in kwarte.
3. Rasper ’n kwart met ’n rasper se grofste kant. Hou die res in die yskas asook die rasper.
4. Sny die gerasperde botter in die meel met 2 messe. Sprinkel die yswater en suurlemoensap eweredig oor die meel. Meng met ’n vurk tot ’n hanteerbare deeg.
5. Knie en vou deeg op ’n koue oppervlakte tot glad en elasties.
6. Strooi die die deeg liggies met meel en rol dit 6 mm dik uit. Lig dit ook van tyd tot tyd op om seker te maak dit sit nie vas nie.
7. Bedek ⅔ van die uitgerolde deeg met ’n ¼ van die gerasperde botter.
8. Vou deeg in derdes om die deel wat sonder botter is tussen die dele met botter te kry, met ander woorde 3 lae deeg met twee lae botter tussen-in. Die buiterante moet goed vasgedruk word om al die lug binne te hou. Begin by die een kant van die lang deeg-reghoek en vou weer in derdes. Buiterant word weer vasgedruk.
9. Draai nou die deeg in effens klam doek toe om te keer dat dit uitdroog. Laat goed koud word, maar nie hard nie.
10. Rol weer 6 mm dik uit. Herhaal die botter-rasper-proses met die volgende kwart en ’n laaste keer met die laaste kwart.
11. Maak toe in ’n klam doek en sit in die yskas vir ’n uur of twee.
12. Rol die deeg uit om tertpanne te bedek en bak blind vir ongeveer 30 minute.
Melktertvulsel (pap)
Metode:
Kook melk.
Smelt botter en roer meel by en voeg gekookte melk geleidelik by. Voeg sout by en haal van die stoof af en laat afkoel.
Klits eier, suiker en vanieljegeursel saam en voeg by melkmengsel.
Gooi vulsel in 2 voorbereide tertkorse en bak ongeveer 30 minute tot goudbruin.