Thursday 9 April 2015

KERRIE-EN-PIESANG-FRIKKADELLE




KERRIE-EN-PIESANG-FRIKKADELLE (Errieda du Toit)
Bestanddele vir frikkadelle
◾1 groot ui, fyngekap
◾12,5 ml olie
◾2 dik snye dag oue witbrood, korsies afgesny en geweek in 75 ml melk
◾1 tot 2 geelwortels, grofgerasper
◾1 ekstra-groot geklitste eier
◾800 g gemaalde maer beesvleis
◾50 ml blatjang
◾25 ml asyn
◾15 tot 20 ml sout
◾Na smaak: varsgemaalde peper, knippie naeltjies, neutmuskaat en worcestersous
Bestanddele vir die kerriesous
◾15 ml olie + 15 ml botter
◾3 uie oorlangs gehalveer, geskil en in skyfies gesny
◾2 knoffelhuisies, gekneus en fyngedruk saam met 5 ml sout
◾12,5 ml sterk kerriepoeier
◾12,5 ml borrie
◾3 ml fyn gemmer
◾3 ml fyn kaneel
◾1 ml rooipeper, of na smaak
◾75 ml asyn
◾50 ml blatjang
◾25 ml sagte bruinsuiker
◾50 ml appelkooskonfyt
◾varsgemaalde peper na smaak
◾500 ml water
◾6 tot 10 baie ryp, amper oorryp piesangs, in skywe gesny en met suurlemoensap bedek

Frikkadelle
Braai die ui in olie tot sag en deurskynend, maar nie bruin nie. Laat eenkant afkoel. Druk oortollige melk uit die geweekte brood en maak brood met ’n vurk fyn. Skep brood, geelwortels en eier oor vleis. Moenie meng nie. Skep die blatjang en asyn bo-oor en geur met sout, peper, neutmuskaat, naeltjies en worcestersous. Meng met ’n groot tweetandvurk al die bestanddele liggies maar deeglik deur. Moenie knie en druk aan die mengsel nie. Vorm 12 frikkadelle. Rangskik in ’n enkellaag in ’n gesmeerde oondskottel, bedek en plaas in koelkas.
Kerriesous
Skep olie en botter in ’n diep kastrol en verhit oor matige hitte tot botter gesmelt is. Voeg uie by en braai tot dit sag en deurskynend is, maar nie bruin nie. Voeg knoffel en sout by en roerbraai vir ’n minuut. Strooi kerriepoeier en borrie oor en roerbraai tot ’n sterk geur die lug intrek. Roer gemmer, kaneel en rooipeper by en voeg asyn bietjies-bietjies by. Stootskraap sodat deeltjies wat aan kastrol se boom kleef, kan oplos. Wees versigtig dat mengsel nie aanbrand nie. Voeg blatjang, suiker, konfyt, peper en helfte van water by. Verhit tot kookpunt. Verlaag hitte en laat prut vyf minute. Voeg res van water by, verhoog hitte, verhit weer tot kookpunt en kook nog 10 tot 15 minute. Roer af en toe.
Verwyder die sous van die hitte en roer die piesang by. Haal die frikkadelle uit die yskas en skep die warm sous oor. Bak 40 – 45 minute in ’n voorverhitte oond van 160 °C totdat die vleis gaar is. Sit voor met rys.