Thursday 23 April 2015

Herfsgroente-en-wors oondgebak en Bruinbotter-soetpatats




Herfsgroente-en-wors oondgebak
Al wat jy nodig het…
8 varkworsies, of hoender- of beesworsies (ek’s versot op Woolies se Herbed Pork Sausages)
1 groot vinkelbol (Woolies het gewoonlik)
2 groot rooiuie
6 medium wortels, of 8 kleintjies
2E olyfolie
1E esdoringstroop (maple syrup)
seesout (ek gebruik Maldon, dis wonderlik)
knippie rissievlokkies (ek sê dis opsioneel, maar ek bedoel dit nie rêrig nie!)
8 salieblare
2E botter
korrelmosterd, vir bedien
bruinbotter-soetpatats, vir bedien (opsioneel, sien resep hier)
Voorverhit die oond tot 220 grade Celsius. Sit ’n groot kleefvrye bakplaat in die oond om warm te word. Was en sny die vinkelbol in 6-8 groot stukke. Skil en sny die uie in kwarte. Skil en sny die wortels in kwarte (of hou hulle heel as hulle baie klein is). Sit die groente in ’n groot mengbak en gooi die olyfolie, esdoringstroop, ’n stewige knip sout en knippie rissievlokkies oor. Meng goed deur. Tuimel die groente op helte van die bakplaat en plaas in die oond. Draai die oond af na 180 grade Celsius en rooster die groente vir tien minute.
Steek intussen ’n paar gate in elke worsie (doen jy dit nie, bars hulle in die oond). Skud die worsies in dieselfde bak as waarin jy die groente gehad het. Enige orige olie en spesery in die bak sal die worsies ’n ekstra klap geur gee. Verwyder die groente na tien minute, roer en voeg die worsies by op die ander helfte van die bakplaat. Sit dit in die oond vir nog 30 minute (roer een keer sodat die worsies alkant bruin bak). Sodra die groente sag en die worsies gaar is, verwyder en bedien dadelik met salieblare wat ’n paar sekondes in 2E botter gebraai is tot bros. Ek sê hierdie resep bedien vier, maar dis vier vrouens wat pik en figuurbewus is. As jy tienerseuns en ‘n ses-voet-vier man het, verdubbel die resep! In dié geval sal jy twee bakplate moet gebruik, want sit jy te veel op een bakplaat, stoom die lotjie in plaas van rooster. Jy kan hom ook rek met my bruinbotter-soetpatats

Bruinbotter-soetpatats
5 oranje soetpatats
sap van een groot lemoen
3E botter
6 salieblare (vars, nie gedroog nie)
sout en growwe swartpeper na smaak
Skil en kook die soetpatats in soutwater .  Druk dit fyn en voeg lemoensap by tot hy die tekstuur het waarvan jy hou. Proe vir sout. Jy het meer sout nodig as wat jy dink – sout is geur! Jy kan die soetpatats voor die tyd tot hier klaarmaak. Die bruinbotter deel kom by net voor jy bedien.  Om die bruinbotter (beurre noisette) met salie te maak, smelt eenvoudig die botter in ’n dikbodem pan. ’n Staalpan werk beter hier as ’n kleefvrye pan met ’n swart bodem, want dit laat jou toe om te sien wanneer die botter bruin genoeg is. Gooi die salieblare in. Die botter sal eers begin skuim en dan begin verkleur. Wat jy soek is ’n liefike neutbruin kleur. Kook jy hom te veel tot die storie swart is, moet jy maar uitgooi en weer begin. Dit vat net ’n minuut of twee, so hou hom soos ’n valk dop. Skep die salieblare uit sodra hulle bros is en verwyder die botter van die hitte die oomblik as dit reg is. Meng een eetlepel van die botter deur die warm patats. Skep die orige botter bo-oor en versier met die salieblare. ‘n Draai growwe swart peper en miskien ’n laaste bietjie seesout vlokkies