Tuesday 21 April 2015

Appelliefie (Cape Gooseberry)

My toontjies krul om van geluk.....
Want my appellieffies is aan die groei !  Nee wat ek het nie duur plantjies gaan koop nie.  'n Vriendin was so oulik om vir my een appelliefie-vruggie uit haar tuin te gee.  Daardie saadjies is toe reguit grond toe.  Sommer so in 'n bak by my agterdeur en siedaar ek het die oulikste plantjies wat opkom.  (Die foto hierbo is op internet geleen want my plantjies is nog maar net so 20 cm hoog.)

Appelliefies is dus heel maklik om van saad te groei.
Kry 'n vruggie of twee in die winkel of by iemand uit hul tuin en saai die saadjies.  Hulle hou van grond wat goed dreineer maar sal in amper enige grond groei.  Natuurlik is hul volson plante, maar jare gelede (in my kinder dae...) het daar 'n welige bos in ons tuin gegroei in halfskadu en hy het tonne vruggies gedra.

Blykbaar se die kenners is Appelliefies familie van die tamatieplant.  Hulle word nie maklik deur goggas aangeval nie maar indien wel, kan jy hul dus spuit met middels wat ook geskik is vir tamatieplante.  Indien jy organies wil groei (met ander woorde sonder gifstowwe) is hierdie plant heel geskik vir jou tuin.

Belangrikste raad:  Terwyl jou plantjies klein is, of die saadjies aan die opkom is, moet jy hul elke dag water gee. (Hulle moenie uitdroog nie maar ook nie staan met sopnat voete nie.)