Thursday 11 December 2014

Vinnige mosbolletjies




Vinnige mosbolletjies

Genoeg vir: 120 stukke beskuit
Bereidingstyd: 2–3½ uur (rystyd ingesluit)
Oondtemperatuur: 160 °C
Baktyd: 40–50 minute



Bestanddele:
• 1 blik (397 g) kondensmelk
• 250 g botter

• 250 ml suiker
• 500 ml kookwater
• 500 ml koue water
• 3 ekstragroot eiers, geklits
• 50 g vars suurdeeg, gekrummel (vra by jou supermark se bakafdeling)
• 2,25 kg koekmeel
• 25 ml sout
• 45 ml anyssaad

VIR AFRONDING
• 15 ml suiker
• 125 ml water

Meng die kondensmelk, botter, suiker en kookwater in jou menger totdat die suiker opgelos is. Voeg die koue water, geklitste eiers, suurdeeg en die helfte van die meel by; meng tot ’n gladde beslag vorm.

Bedek dit en laat dit vir sowat 1–2 uur op ’n warm plek staan sodat dit kan rys. Dis gereed wanneer dit sponsagtig is. Smeer intussen jou beskuitpanne deeglik met botter.

Knie die insuursel af en voeg die sout, anyssaad en die oorblywende meel by om ’n sagte, hanteerbare deeg te vorm. Sprinkel meel oor die deeg en oor jou hande en knie totdat die deeg nie meer aan jou hande of die werkoppervlak vaskleef nie; dit sal sowat 15–20 neem voordat die deeg sag en elasties is.

Bedek die deeg met gesmeerde kleefplastiek en sit dit op ’n warm plek om te rys; die deeg is gereed wanneer dit in volume verdubbel het.

Knie die deeg af met jou hande of gebruik jou menger. Vorm bolletjies so groot soos gholfballe deur die deeg in jou hand te hou en dit met jou duim en voorvinger af te knyp (die bolletjies moet sowat ’n derde van die hoogte van die panne wees). Pak die bolletjies lekker styf teenmekaar; bedek dit en laat dit staan totdat die bolletjies die panne volgerys het. Bak dit vir 40–50 minute in ’n voorverhitte oond, afhangend van die grootte van die panne – ’n kleiner pannetjie sal vinniger deurgebak wees as ’n groot pan. Die bolletjies moet ’n ligte goudbruin kleur hê. Keer dit uit en laat dit afkoel.

Los die suiker in die water op en verf dit met ’n deegkwassie oor die bolletjies. Geniet dadelik of breek dit in stukke en droog dit oornag uit by 90 °C vir beskuit.