Thursday 13 November 2014

Braai-balletjies met chakalaka




Braai-balletjies met chakalaka
Jy het nodig:
Vir die braai-balletjies:
...
1k mieliemeel (pap)
1liter melk
100g botter
200g oorskiet-braaivleis (of gaar maalvleis)
1 mielie
1 rooi-ui, fyngekap
5ml vars tiemie
60ml blatjang
sout en peper, na smaak
400ml fyn graanvlokkies/broodkrummels
2 eiers, liggies geklits
125ml meel
olie, vir diepbraai
Vir die chakalaka:
30ml olyfolie
1ui
2knoffelhuisies
5ml komyn
30ml matige kerriepoeier
4 groot wortels, geskil
1 groen soetrissie
1 geel soetrissie
30ml tamatiepasta
600g geblikte tamaties
15ml witasyn
15ml witsuiker
4 appelkose
15g vars koljander
Só maak ’n mens:
1. Plaas die melk in ’n groot kastrol en klits die mieliemeel by. Hou aan roer oor lae hitte en kook tot gaar. Verwyder van die hitte en roer die botter by. Plaas eenkant om af te koel.
2. Kook die mielie in kookwater vir 8minute. Haal uit die water en sny al die mieliepitte af. Hou eenkant tot benodig.
3. Sny die braaivleis in klein stukkies en meng dit saam met die sout en peper, mieliepitte, blatjang, tiemie en ui. Gebruik ongeveer ’n teelepel van die vleismengsel en vorm dit in balletjies deur dit stewig saam te druk.
4. Gebruik twee eetlepels van die gaar pap en maak ’n plat sirkel daaruit. Plaas ’n vleisballetjie in die middel van die sirkel en maak die pap toe rondom die vleis. Rol die balle in meel, dan in die geklitste eier en dan in die broodkrummels of fyn graanvlokkies.
5. Verhit ’n groot kastrol met olie tot warm en braai die balle tot bros. Dreineer op kombuispapier.
6. Maak nou die chakalaka: Kap al die groente fyn, insluitende die knoffel en die koljander. Soteer die uie en die knoffel in die olyfolie oor lae hitte totdat die uie gaar is.
7. Roer die komyn en die kerriepoeier by en soteer nog ’n paar minute tot geur. Roer die soetrissies en wortels by en soteer nog 2 minute.
8. Voeg die asyn en suiker by en laat borrel totdat die asyn weggekook het (dit behoort so 3 minute te neem).
9. Voeg die tamatiepasta en die tamaties by en prut 20 minute totdat die wortels gaar is, maar nie die pap nie. Roer die appelkose (in kwarte gesny) en vars koljander by.
10. Sit die braai-balletjies warm voor saam met die pikante chakalaka.