Tuesday 18 November 2014

Aarbeikonfyt met vanielje





Aarbeikonfyt met vanielje

Bestanddele
1 suurlemoen
1 kg aarbeie, in kwarte gesny
350 ml suiker
90 ml (6 eetlepels) suurlemoensap
1 vanieljepeul, oopgesny en saadjies uitgekrap

Metode

1. Sny 3 - 4 breë repe suurlemoenskil met ’n aartappelskiller af. Sny elke reep in ’n paar dunner repies.

 2. Plaas al die bestanddele, insluitend die vanieljepeul met die saadjies, in ’n kastrol en meng goed deur. Laat staan vir 15 minute tot die suiker begin oplos en die aarbeie ’n sous begin vorm.

 3. Verhit die vrugte oor matige hitte en roer tot die suiker opgelos is. Verhit tot kookpunt, stel die hitte effens laer en prut 20 - 30 minute, maar moenie dat die konfyt te vinnig kook nie. Skep enige skuim versigtig af, maar maak seker daar nie te veel vanieljesaadjies verlore gaan nie.

 4. Toets ’n bietjie konfyt op ’n koue piering ná 30 minute. As die konfyt vinnig stol en jy met jou vinger ’n paadjie deur die druppel kan trek, sonder dat dit weer bymekaarkom, is die konfyt gereed. Prut vir nog 10 minute as dit steeds te loperig is. Dis egter nie ’n stywe konfyt as dit afgekoel het nie. Moet dit dus nie te veel kook nie.

 5. Skep die warm konfyt in gesterlliseerde glasflesse, verseël en laat dit heeltemal afkoel. Of skep dit in ’n bakkie en hou in die yskas. Gebruik op enige van die voorgestelde maniere.

 Wenke

 1. Om flesse te steriliseer: Vul die flesse met kookwater en laat staan vir ’n paar minute. Plaas die deksels in ’n bak en bedek ook met kookwater. Vul die warm flesse met warm konfyt en verseël dadelik.

 2. Vervang die helfte van die aarbeie met ’n mengsel van bessies, soos bloubessies, frambose.

 3. Vervang die vanieljepeul met ’n stuk pypkaneel.