Tuesday 11 November 2014

3 planne met frikkadelle in minder as 30 minute




3 planne met frikkadelle in minder as 30 minute

Genoeg vir: 4
Bereidingstyd:
15 minute



• 1 groot ui, gerasper
• 450g maer beesmaalvleis
• 2 knoffelhuisies, gekneus
• 15ml worcestersous
• gerasperde skil van 1 suurlemoen
• 3ml gedroogde tiemie
• 1 groot eier, liggies geklop

Meng al die bestanddele en geur dit. Rol in balletjies en bêre vir 20 minute in die yskas, of tot jy dit gaarmaak.

Variasies
Pitavulsel

Sit die frikkadelle op ’n gesmeerde bakplaat. Smeer olyfolie oor. Rooster vir 10 tot 15 minute onder ’n medium-warm oondrooster. Draai dit halfpad deur die roostertyd om en smeer nog olie aan. Haal die frikkadelle uit die oond sodra dit deurgaar is. Vul pitabrode daarmee en drup tzatziki, blatjang of soet rissiesous daaroor.

Pastasous
Verhit ’n lagie sonneblomolie in ’n pan. Braai die frikkadelle tot alkant bruin en deurgaar. Sit voor op ’n bord pasta en skep klaargemaakte tamatie- pastasous bo-oor. Strooi kaas oor.

Kerriefrikkadelle
Verhit 15ml sonneblomolie in ’n kastrol. Voeg 15ml tot 30ml kerriepasta by, afhangende van hoe sterk jy dit wil hê. Roer goed en voeg ’n blikkie klappermelk by. Laat die mengsel prut en voeg dan die frikkadelle by. Prut vir 10 tot 15 minute of tot die frikkadelle deurgaar is. Sit saam met basmati-rys voor.