Wednesday 8 October 2014

Rogan Josh-skaapkerrie




Rogan Josh-skaapkerrie
Jy het nodig vir 4 porsies:
½ koppie olie
900 g ontbeende skaapboud, in blokkies gesny
10 groen kardemomsade
2 lourierblare
6 naeltjies
10 swart peperkorrels
1 kaneelstokkie
2 uie, geskil en fyngekap (sit dalk groot stukke in wat jy kan uithaal)
2 teelepels gemmersmeer
2 huisies knoffel, geskil en fyngedruk
1 teelepel fyn koljander
1 teelepel fyn komyn
4 teelepels paprika
1 teelepel droë brandrissievlokkies
1¼ teelepel sout
6 eetlepels ongegeurde jogurt
2 koppies water
Gee die vleis kleur. Verhit die olie in ’n kastrol en braai die skaapvleisblokkies bietjie vir bietjie tot bruin. Skep dit uit wanneer bruin en hou eenkant.
Braai die spul speserye. Voeg die kardemomsade, lourierblare, naeltjies, peper en kaneelstokkie by dieselfde olie. Wag tot die kardemomsade uitswel (dit neem net ’n paar sekondes) en voeg dan die uie by. Roer vir ’n paar minute totdat die uie goudbruin word. Voeg die gemmersmeer en knoffel by en roer deur. Nou kom die koljander, komyn, paprika, brandrissievlokkies en sout by. Roer vir ’n minuut.
Voeg die jogurt by. Voeg 1 eetlepel van die jogurt by. Roer vir 30 sekondes en voeg dan elke 30 sekondes die res van die jogurt lepel vir lepel by terwyl jy dit heeltyd oor lae hitte roer.
Geur die vleis. Uiteindelik kan jy die water en die skaapvleisblokkies bysit. Roer alles goed deur, sit die deksel styf op en prut dit teen ’n lae hitte vir twee uur of totdat die vleis lekker sag is. Maak seker dat jy elke kwartier die deksel oplig en die vleis deurroer om seker te maak dat dit nie aanbrand nie en voeg nog ’n klein bietjie water by indien nodig.
Maak reg vir die opskep. Haal die kastrol se deksel af sodra die vleis sag is en hou aan om dit te kook totdat die vloeistof verminder en dik word, as dit nie reeds dik is nie. Haal die kaneelstokkie en kardemomsade uit voordat jy opskep.
WENK:
Die jogurt moet “gewoond” raak aan die hitte en dus bietjie vir bietjie bygevoeg word. Dit keer dat die jogurt skif.