Friday, 31 October 2014
Markdag Idee - Plantjies
Die produk: Kruie en plante in houers vanaf R10
Voorbereiding: Een uur om die blikkies te versier, maar die kruie kan drie weke voor die markdag geplant word.
Jy benodig:
herwinde blikkies (of enige middelslag- tot groot houers)
’n hamer en spyker
dun karton
handwerkverf
blomplakkers/suigplakkers of spuitverf
5 tot 10 klein klippies of spoelklippies (per blikkie)
1½ koppies potgrond (per blikkie)
’n 5 tot 10 cm-kruieplant per pot
geskenkpapier
materiaal
handwerkgom
Maak só:
1. Draai die blikkie onderstebo en maak versigtig gaatjies in die bodem.
2. Knip die karton so groot soos die blikkie. Verf die karton en plak dit om die blikkie, of gebruik bruinpapier as ’n los bedekking en bind dit met tou vas. Jy kan selfs die blikkie met plakkers, spuitverf of materiaal en lint versier.
3. Sit die blikkie regop neer en rangskik klein klippies of spoelklippies op die bodem vir dreinering. Voeg die potgrond by en plant jou kruiesaailing versigtig oor. Druk die grond saggies vas om te verseker dat die saailing stewig in die blikkie is. Maak dit dan nat.
4. Plaas jou kruie op ’n sonnige vensterbank of op ’n balkon en onthou om hulle elke dag water te gee!
Dekorwenke:
■ Skryf die prys van elke kruiehouer op ’n stukkie papier. Knip dit uit en plak dit aan ’n roomysstokkie of takkie vas en druk dit in die potgrond. Jy kan ook geskenketikette gebruik of jou houers met swartbordverf verf en die prys van elke kruieplant met bordkryt op die pot skryf.
■ Rig jou stalletjie op die grond of op ’n tafel in. Hoe meer potte hoe beter - dit sal soos ’n regte kwekery lyk.
■ Hou ’n outydse gieter byderhand vir effek en gebruik ’n kruiwa om al jou produkte in rond te karwei. Dra waterstewels, ’n voorskoot, ’n tuinhoed en handskoene om die kruiepotstalletjie se prentjie te voltooi.
■ Gebruik ou teekoppies of blikbekers as houers - hulle moet eintlik gaatjies onder in hê, wat makliker is om in ’n blikbeker te maak. Klein klippies sal help met dreinering.
Nog idees:
■ Plant saadjies in ou jogurtbakkies. Jou kinders sal daarvan hou om elke dag te kyk of hulle blaartjies sien uitspruit. Wanneer hulle groot genoeg is, plant die saailinge in groter, versierde potte oor.