Monday 22 September 2014

Basiese gegeurde maalvleis




Basiese gegeurde maalvleis
Berei hierdie resep met 3 kg vleis op ‘n slag. Verdeel dan die gaar vleis in porsies soos benodig en bevries vir latere gebruik.

Bestanddele
 15 ml sonneblomolie
 1 groot ui (gekap)
 3 wortels (gerasper of fyn gekap) (opsioneel)
 2 stingels seldery (fyngekap) (opsioneel)
 1 huisie knoffel (fyngemaak)
 1 kg gemaalde beesvleis (maer maar nie té maer)
 1 blikkie gekapte tamatie en 1 blikkie water (vir stoompot: laat water weg)
 15 ml tamatiepasta
 15 ml worcestersous
 15 ml bruin suiker
 10 ml beesvleis aftreksel poeier opgelos in 125 ml warm water
 10 ml braaivleis speserye
 10 ml gemengde kruie
 Sout en varsgemaalde swart peper
 15 ml Bisto en 15 ml meel gemeng met 50 ml water ( of meer van hierdie mengsel indien nodig)
1.  Verhit die olie in ‘n groot kastrol.  Soteer die uie oor medium hitte tot sag. Gooi die wortels, seldery en knoffel by en roerbraai vir 2-3 minute.
 2.  Gooi die vleis by en roerbraai tot die vog verdamp en dit effe verbruin.
 3.  Gooi die res van die bestanddele (behalwe Bisto) by en laat prut vir 40-50 minute ( of stoom in stoompot vir 20 minute).  Meng die Bisto en die water en verdik die
 sous.  Gebruik dadelik of laat afkoel, bewaar in yskas (tot 2 dae) of verpak in porsies en vries. Herverhit en gebruik soos benodig.
Gebruike:
 1.    Bedien saam met pasta (bv spaghetti of tagliatelle) en mengelslaai
 2.    Berei lasagne (lae pasta, kaassous en vleissous) en bedien met mengselslaai
 3.    Berei groot vleispasteie (met skilferkors) en bedien met gemengde groente
 4.    Berei individuele pasteitjies (sommer met skondeeg) en bedien met mengselslaai.
 5.    Bedien in ‘wrap’ met slaai, gekapte tamatie, komkommer, uie en gerasperde kaas.
 6.    Bedien saam met ‘nachos’.
7.    Bedien in heelgebakte aartappel met gerasperde kaas en mengselslaai
 8.    Bedien op ‘mash’ met kooslaai, gestolde wortelslaai en beet.
 9.    Geur met kerrie, voeg gemengde groente by en bedien oor rys.
 10.   Gebruik koud as toebroodjievulsel, vulsel vir jaffles en geroosterde toebroodjies, of warm as vulsel vir vetkoek of pannekoek of sommer op roosterbrood vir ontbyt of ligte ete.