Sunday 13 July 2014

Maklike hoenderpastei




Maklike hoenderpastei
1 gaar hoender
 50 g botter
 1 ui, grof gekap
 2 selderystingels, grof gekap
 1 groot wortel, geskil en grof gerasper
 150 g sampioene, in kwarte gesny
 40 ml meel
 5 ml mosterdpoeier
 250 ml room
 300 ml melk
 Sout en varsgemaalde swartpeper
 40 ml gekapte pietersielie
 100 g ertjies
 400 g skilferkorsdeeg, ontdooi
 1 eier, geklits
Voorverhit die oond tot 200 °C en smeer ’n groot oondbak met olie of spuit met kossproei. Verwyder ál die bene en velle van die hoender en sny die vleis in klein blokkies. Hou eenkant.
Verhit die botter in ’n groot pan en braai die ui, seldery, wortel en sampioene vir ’n paar minute. Roer die meel en mosterdpoeier by en braai vir ’n paar minute. Giet die room en melk by en roer totdat ’n dik sous vorm. Geur met sout en varsgemaalde swartpeper.
Roer die pietersielie, ertjies en hoenderblokkies by en skep die mengsel in die voorbereide oondbak. Rol die skilferkorsdeeg liggies uit op ’n meelbestrooide oppervlak en bedek die hoender daarmee. Druk die kante met ’n vurk vas en verf met die eier.
Bak vir sowat 30 minute of tot goudbruin. Genoeg vir sowat ses porsies. Wenk: indien jy nie ’n gaar hoender in die hande kry nie, bak ’n heel hoender (gourmet sout, peper, suurlemoensap en olyfolie) in ’n voorverhitte oond van 180 °C vir sowat 40 minute.