Friday 25 July 2014

Jan Braai se stokbrood



Jan Braai se stokbrood
Jy benodig:
  • 1 kg koekmeel
  • 1 pakkie kitsgis
  • 25 ml suiker
  • 12,5 ml sout
  • 2½ k water
  • 50 ml olyfolie
  • skoongewaste stokke
Só maak ’n mens:
Gooi die meel, gis, suiker en sout in ’n bak en meng goed.
Voeg die olie en 2 koppies effens warm water by en meng met jou hande tot ’n sagte bol deeg. Voeg nog water by indien nodig.
Knie die bol deeg op ’n plat oppervlak vir sowat 5 minute tot glad en plooibaar.
Sit die deeg terug in die mengbak en bedek met kleefplastiek of ’n klam vadoek. Laat dit rys vir sowat 30 minute totdat die volume verdubbel het.
Keer dit uit op ’n plat oppervlak (met ’n bietjie meel bestrooi) en knie ’n paar keer om van die lug uit te pers. Verdeel dit dan in tot 10 stukke en rol elkeen uit in ’n lang wors.
Rol die worse om ’n stok (druk die punte weerskante vas) en braai op matige kole sowat 15 minute lank. Draai dit gereeld om oral te verbruin. Die stokbrood is reg as dit maklik van die stok afkom.
Bedien dadelik met botter en iets soos stroop of konfyt, of druk ’n stuk gaar boerewors binne-in.