Friday 4 July 2014

Bedjie vir hond




Op sy troontjie
Laat Buksie soos ’n prinsie voel met dié elegante lêplek.
Inkopielys...
• spaanderbord in ’n sirkel met ’n deursnee van 600 mm gesaag
• 4 pote van jou keuse
• hoëdigtheidspons in dieselfde grootte as die spaanderbord
• 1 m materiaal van jou keuse vir die oortreksel

• 6 knope, oorgetrek in dieselfde materiaal as die oortreksel
• 2 m galon of tosselstrook as tooisel
Plus
• spaanderbordskroewe
• 1 m goedkoper materiaal as onderlaag
Gereedskap
• stoffeernaald en -tou
• skroewedraaier
• boor
• kramskieter
• verf en kwas
• gompistool
Projeknotas
• Die grootte van die spaanderbord, lap en tooisel hang af van die grootte van jou hond – ons s’n is vir ’n klein ras.
• Die aantal knope sal wissel na gelang van die grootte van die bed.
So maak jy
1 Verf die pote in ’n kleur van jou keuse en laat dit droog word.
2 Merk op die spaanderbord die posisie vir elke poot, asook die posisie van die knope. Boor die nodige gidsgate vir die pote se skroewe, en boor gate deur die spaanderbord om die knope vas te sit.
3 Skroef die pote aan die onderkant van die
spaanderbordbasis vas.
4 Plaas die spons bo-op die spaanderbordbasis. Trek ’n stuk afvallap oor die spons en kram dit aan die onderkant van die basis vas – dit help dat die bekleedsel nie aan die spons vassit nie en vergemaklik die proses as jy plooitjies onder die knope intrek.
5 Drapeer die materiaal oor die stoeltjie en kram dit eers net aan een kant vas sodat die lap nie afgly nie, maar steeds kan beweeg. Ryg die stoffeertou deur die naald en steek dit van onder die basis af deur die gaatjie en reguit boontoe deur die spons. Ryg jou knoop deur en druk die naald weer terug deur dieselfde gat. Knoop die tou en trek dit styf na gelang van hoe diep jy die knoop wil hê. Kram die tou onderaan die basis vas.
6 Trek nou die lap styf om die kante, spasieer die plooitjies eweredig en kram die lap
onderaan die basis vas.
7 Plak jou tooisel met behulp van die gompistool om die rand vas.
(Tuis)